Press "Enter" to skip to content

Verkondig altyd die Evangelie en gebruik woorde as dit nodig is?!

“Verkondig altyd die Evangelie en gebruik woorde as dit nodig is.” Hierdie is ‘n baie gewilde sêding onder gelowiges. Dalk het jy dit al gehoor of dalk het jy dit al self gesê. Waar kom hierdie sêding vandaan? Wat word regtig daarmee bedoel? Wat sê die Here in die Bybel? Behoort gelowiges hierdie sêding te gebruik?

Hoewel heelwat mense hierdie sêding aan Francis van Assisi toeskryf, word hierdie sêding nêrens in die geskrifte wat ons van hom beskikbaar het, gevind nie. Dit is daarom nie duidelik waar hierdie sêding vandaan kom of wie dit die eerste keer gebruik het nie.

Hierdie sêding val mooi op die oor, want dit beklemtoon hoe belangrik die manier wat gelowiges lewe, is. Tog bevat hierdie sêding ‘n gevaarlike leuen: Jy kan die Evangelie verkondig sonder om woorde te gebruik.

Die Evangelie, die Goeie Nuus van Jesus Christus, is iets wat verkondig word.  In Romeine 10:14 staan daar: “Hoe kan jy in Hom glo as jy nie van Hom gehoor het nie? En hoe kan hy van Hom hoor sonder iemand wat preek?” Dit is onmoontlik om die Evangelie te hoor, sonder dat dit verkondig word.

Dit is onmoontlik om die Evangelie sonder woorde te verkondig. Mense kan bv. glad nie uit my manier van lewe sien dat Jesus Christus aan die kruis gesterf het en die dood oorwin het en opgevaar het na die hemel toe, nie. Ja, mense kan uit my manier van lewe sien dat ek die Evangelie glo en dat ek lewe in Jesus Christus het, maar dit is onmoontlik om die Evangelie sonder woorde te verkondig!

[bctt tweet=”Dit is onmoontlik om die Evangelie sonder woorde te verkondig.” username=”scriptura_tweet”]

As ons die Evangelie sonder woorde kon verkondig, sou die boek Handelinge baie anders gelyk het. Hierdie boek vertel ons hoe die Here sy Kerk gevestig het. Dit is opmerklik om te sien hoeveel keer die Goeie Nuus in Handelinge verkondig – met ander woorde, met woorde oorgedra, is:

  • Nadat die Heilige Gees uitgestort is, verkondig Petrus die Evangelie (Handelinge 2)
  • Nadat die verlamde man genees is, verkondig Petrus die Evangelie (Handelinge 3)
  • Toe Petrus en Johannes voor die Joodse Raad gedaag was, sê hulle: “Dit is onmoontlik om nie te praat oor wat ons gesien en gehoor het nie” (Handelinge 4)
  • Toe Stefanus voor die Joodse Raad gebring is, het hy die Evangelie verkondig (Handelinge 7)
  • Toe Filippus met die Etiopiër gesels het, het Filippus die Evangelie oor Jesus aan hom verkondig (Handelinge 8)
  • Toe Paulus tot bekering gekom het, het hy dadelik in die sinagoges begin verkondig dat Jesus die Seun van God is (Handelinge 9)

Dit is maar net ‘n paar voorbeelde!

Die Heilige Gees gebruik die verkondiging van die Evangelie om mense tot bekering te bring. In 1 Tessalonisense 1:5 lees ons die volgende: “Die Evangelie wat ons aan julle verkondig het, het nie bloot met woorde tot julle gekom nie, maar ook met krag en deur die Heilige Gees en met volle oortuiging.”

[bctt tweet=”Die Heilige Gees gebruik die verkondiging van die Evangelie om mense tot bekering te bring.” username=”scriptura_tweet”]

Omdat die verkondiging van die Evangelie so belangrik is, stuur die Here mense om die Evangelie te verkondig. Ons hoef net na die 2 briewe aan Timoteus te kyk om te sien hoe belangrik die verkondiging van die Evangelie is en dat die Evangelie iets is wat met woorde verkondig word:

  • “Met die oog hierop is ek aangestel as prediker en apostel, as ‘n leraar om die heidennasies te onderrig in die boodskap van die geloof en die waarheid” (1 Tim. 1:7)
  • “As jy hierdie dinge aan die broers voorhou, sal jy ‘n goeie dienaar van Christus Jesus wees wat jouself voed met die woorde van die geloof en die goeie leer waarvan jy ‘n aanhanger geword het” (1 Tim. 4:6)
  • “Totdat ek kom, moet jy jou daarop toelê om uit die Skrif voor te lees, te preek en onderrig te gee.” (1 Tim. 4:13
  • “As iemand ‘n ander leer verkondig en nie hou by die gesonde woorde van ons Here Jesus Christus en by die leer van ons godsdiens nie, is hy verwaand en weet hy niks” (1 Tim. 6:3,4)
  • “Jy moenie skaam wees om die boodskap van die Here te verkondig nie” (2 Tim. 1:8)
  • “Neem die woorde wat jy van my gehoor het, as voorbeeld van gesonde verkondiging” (2 Tim. 1:13)
  • “Onthou altyd dat Jesus Christus, ‘n nakomeling van Dawid, uit die dood opgewek is. Dit is die Evangelie wat ek verkondig” (2 Tim. 2:8)
  • “Ek beveel jou voor God en voor Christus Jesus wat die lewendes en die dooies sal oordeel, ek beveel jy moet die oog op sy koms en sy koningskap: verkondig die woord, hou daarmee vol, tydig en ontydig; weerlê, bestraf, bemoedig deur met alle geduld onderrig te gee.” (2 Tim. 4:1,2)

Om te sê: “Verkondig altyd die Evangelie en gebruik woorde as dit nodig is”, is soos om te sê: “Voer die honger mense en gebruik kos as die nodig is”. Jy kan nie die Evangelie sonder woorde verkondig nie. Daarom mag ons as gelowiges nie met toe monde deur die lewe gaan nie. As ons nie vir mense gaan vertel van Jesus Christus nie, gaan hulle nie die Evangelie hoor nie. Al lewe ons hoe goed.

[bctt tweet=”Om te sê: “Verkondig altyd die Evangelie en gebruik woorde as dit nodig is”, is soos om te sê: “Voer die honger mense en gebruik kos as die nodig is”.” username=”scriptura_tweet”]

Beteken dit dan dat ons manier van lewe onbelangrik is? Glad nie. Wanneer jy glo, gee God vir jou nuwe lewe en lei jou deur sy Gees om hierdie lewe te leef. In Efesiërs 2:10 staan: “Nee, God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het.” In Romeine 6:1 en 2 staan: “Wat moet ons nou hiervan sê? Moet ons aanhou sonde doen sodat die genade kan toeneem? Beslis nie. Hoe kan ons wat dood is vir die sonde, nog daarin voortlewe?”  Dit is maar net 2 voorbeelde van vele gedeeltes in die Nuwe Testament waar die Here beklemtoon dat ons manier van lewe belangrik is.

Waarom is ons manier van lewe belangrik? Omdat ons deur ons gehoorsaamheid aan Hom vir God wys dat ons Hom lief het. Omdat ons deur ‘n lewe tot God se eer die sekerheid kry dat ons waarlik aan Hom behoort – ‘n lewe tot sy eer is die vrug van ware geloof. Omdat ons deur volgens die Woord te lewe ‘n platform skep om die Evangelie te verkondig. Mense gaan nie vir ons luister as ons lewens nie wys dat ons glo wat ons verkondig nie. Maar wanneer ons lewens anders lyk, wanneer ons volgens die Woord lewe, bevestig ons lewens die Evangelie wat ons verkondig.

[bctt tweet=”Mense gaan nie vir ons luister as ons lewens nie wys dat ons glo wat ons verkondig nie.” username=”scriptura_tweet”]

Moet gelowiges sê: “Verkondig altyd die Evangelie en gebruik woorde as dit nodig is”? Glad nie. Dit klink dalk mooi, maar dit is onmoontlik om sonder woorde die Evangelie te verkondig. Sê eerder: “Verkondig altyd die Evangelie en wys met jou manier van lewe dat die Evangelie jou verander het.”

One Comment

  1. Jaco Boersema Jaco Boersema

    Baie dankie vir die mooi en nodige werk wat hier gedoen word.

    Ek dink mens kan dit verder terug trek na Christus self. Hy het nie net op aarde ‘n mooi lewe kom leef en kom sterf vir ons sondes nie. Hy het deur sy hele lewe op aarde die mense geleer met prediking (Kyk maar na die berkpredikasie). Hy het die mensdom kom leer wat sy Evangelie beteken en Hy het dit bevestig met sy dade.

    Daarom mag ons nie stilbly nie want Christus se voorbeeld is “Verkondig met woord en daad”

Leave a Reply to Jaco BoersemaCancel reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.