Press "Enter" to skip to content

3Minute1Woord| DISSIPEL

Mathetes| {afr} Dissipel {eng} Disciple
Soos in o.a. Mattheus 10:24

Kennis en verhouding
Ons vind die woord mathetes, wat ons vertaal met dissipel net in die evangelies en in Handelinge. Mathetes kom van ‘n woord wat “leer” of “om kennis opdoen” beteken.  Dissipel beteken eenvoudig “volgeling” of “leerling”, maar die dissipel in die nuwe testament is meer as net ‘n student – hy is ‘n toegewyde aanhanger.  Hy is nie net iemand wat ‘n klomp leerstellings studeer en ken nie.  Hy lééf wat hy leer.  Die dissipels in die NT wou hulle meester se lewe naleef – leef soos wat hulle rabbi gelewe het.  Dissipels wil ook die leerstellings en lesse van hulle leermeester oordra aan ander, en laat voortlewe.

Dissipelskap gaan oor kennis oor die leermeester, maar ook ‘n verhouding met die leermeester.

Nou, in die baie breë sin van die woord, is enigiemand wat onderrig word, enigiemand wat aanhangers van ‘n sekere leerstelling of leermeester is, ‘n dissipel.  Daarom lees ons byvoorbeeld  ook in Mattheus 9:14 van Johannes die Doper se dissipels.  Hulle was toegewyde volgelinge van Johannes.  Ons lees selfs dat die Fariseërs dissipels gehad het in Lukas 5.

Apostels is dissipels, maar alle dissipels is nie apostels nie
Jesus het vir hom twaalf volgelinge, oftewel dissipels afgesonder en uitgeroep om Hom te volg.  Hy sou van hulle “vissers van mense” maak (Markus 1:17).  In die boek Handelinge, na die dood en opstanding van Jesus, lees ons egter dat hierdie twaalf nie meer dissipels genoem word nie, maar apostels.  Die term apostels word net gebruik vir hierdie volgelinge wat direk deur Jesus self geroep is.  Hulle was oog- en oorgetuies.  Die Heilige Gees het deur hulle die fondament vir die Nuwe-Testament gelê.  Hierdie apostels is dissipels, maar nie alle dissipels is apostels nie.  Ons noem onsself vandag nog toegewyde volgelinge van Jesus – ons is dissipels, maar daar is nie meer vandag apostels nie.  Die apostelamp het geëindig toe die apostels gesterf het.

Dissipelskap:   ken, volg, dissipel
Jesus het die mense van Sy tyd opgeroep, en roep ons ook op om Hom te volg, en om Sy dissipels te wees.  Soos wat ons na hierdie oproepe van Jesus in die NT kyk, word veral drie dinge vir ons duidelik wat Jesus bedoel het met dissipelskap:

  1.  Dissipelskap is om saam met Jesus te wees en om Hom persoonlik te ken.
    Ons kan nie meer vandag fisies saam met Jesus wees nie, maar Hy is met ons deur Sy Gees. Die Here roep ons deur Sy Gees om langs Hom te lewe en om Hom persoonlik te leer ken. As dissipels vind ons ons vreugde in Hom en word al hoe meer soos Hy. Dissipelskap gaan daaroor dat ons ons totale vervulling en vreugde in Hom vind.
  2.  Jesus roep mense om geheel en al aan Hom toegewyd te wees.
    Dissipelskap beteken dat ons selfs in moeilike tye steeds Hom vertrou, en ons geheel en al aan Hom en Sy wil sal onderwerp.  Dissipels volg die Here Jesus deur alle omstandighede.
  3.  Dissipels maak dissipels.
    Die Here Jesus roep mense na Homself, sodat hulle Hom ook aan ander mense sal wys. Dissipels moet ander mense leer om saam met Jesus te wees en Hom persoonlik te ken. Dissipels moet ander mense leer om toegewyd te wees aan Jesus.

So, in kort, ‘n dissipel van Jesus is iemand wat geroep is om Jesus te ken, om Hom te volg en om dissipels van alle nasies te maak (Mattheus 28:19).

Marnix Boersema

Be First to Comment

Lewer Kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.