Press "Enter" to skip to content

3Minute1Woord| HEERLIKHEID VAN GOD

KABHOD| {afr} heerlikheid {eng} glory

powered by Advanced iFrame. Get the Pro version on CodeCanyon.

Om God se heerlikheid te beskryf is onmoontlik. Ons taal en woorde skiet ver tekort. Ons kan egter poog om iets daarvan te begryp soos ons dit vanuit die Skrif verstaan.

Die heerlikheid van die Here (kabowd) beteken in die Hebreeus, in sy oorspronklike vorm, die “gewigtigheid van die Here”. Dit is ’n figuurlike uitdrukking wat alreeds vir ons iets verduidelik van die Here se heerlikheid – Hy het gewigtige aansien.

Psalm 104:1,2 stel dit in pragtige poëtiese taal: “met majesteit en heerlikheid is U be-kleed”. Ons kan sê die Here se “klere” is “heerlikheid en majesteit”. Wanneer die heilige Allerhoogste Homself openbaar, dan sien ons Sy heerlikheid. God se heerlikheid is Sy heiligheid wat sigbaar gemaak word. As God Homself in Sy skeppingswerke bekendmaak, dan sien ons daarin sy heerlikheid en dit sê tegelyk ook vir ons iets van hoe heilig Hy is. Elke diertjie, plantjie en elke ster vertel van die heerlikheid van God!

[bctt tweet=”Ons kan sê: die Here se ‘klere’ is ‘heerlikheid en majesteit’. #3Minute1Woord #RadioScriptura” username=”scriptura_tweet”]

Die heerlikheid van die Here beskryf ook Sy teenwoordigheid op ’n manier. Sy heerlikheid was op die berg Sinaï. Sy teenwoordigheid vul die tabernakel, lees ons in Eksodus. Maar telkens word Sy heerlikheid bedek met ’n wolk. Dit is te veel en te groot vir ‘n mens om te aanskou. Geen mens kan God in al Sy heerlikheid sien en bly leef nie. Dan lees ons egter ook van ’n wonderlike profesie oor die Here se heerlikheid in Jes. 40:5: “die heerlikheid van die Here sal geopenbaar word, en alle vlees tesame sal dit sien.” Die Here self, bekleed met majesteit en heerlikheid, het Jesaja geprofeteer, sal sigbaar word. Teenwoordig, maar nie meer bedek met ’n wolk nie.

Heb. 1:3 verklaar die profesie van Jesaja en sê vir ons dat Jesus Christus die “afskynsel van God se heerlikheid” is. In Christus word die gewigtige heerlikheid van God vir ons sigbaar! Eindelik lees on dan ook in Open. 21:23, dat die Nuwe Jerusalem geen son of maan sal nodig hê nie, want dit sal verlig word met die heerlikheid van God en die “Lam is sy lamp”.

Die gewigtige aansien van die Here, oftewel Sy heerlikheid, bring ons diep onder die besef dat ons ook met groot ontsag Hom moet aanbid. Augustinus het gepraat van die gravitas van ons aanbidding. Ons aanbidding moet geskied met groot gewigtigheid, wat die heilige Allerhoogste toekom.

Be First to Comment

Lewer Kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.