Press "Enter" to skip to content

“Alhoewel my geheue vervaag, onthou ek twee dinge…”

“Ons is dus saam met Hom begrawe deur die doop in die dood, sodat net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in ’n nuwe lewe kan wandel.” (Romeine 6:4)


John Newton, skrywer van die lied Amazing Grace, sê op sy sterfbed: “Alhoewel my geheue vervaag, onthou ek twee dinge, baie duidelik: Ek is ‘n groot sondaar, en Christus is ‘n groot Verlosser”.

Die genade van Christus se verlossing is asemrowend groot. Tog, maak hierdie genade nie die deur oop vir méér sonde nie. Die apostel leer ons, dat geloof ons nie vrymaak om ledig, lui en oorgerus te wees, asof daar geen sonde meer aan ons kleef nie. Daarom het ons, soos Maartin Luther sê, ” ‘n leeftyd se werk in ons”, om ons liggame in toom te hou en sy lede te dwing om die Gees in plaas van my eie begeertes te gehoorsaam.

Paulus skryf, soos wat ‘n mens vuil in ‘n bad water ingaan en skoon daaruit kom, so het die ou, natuurlike mens saam met Christus gesterf en het ons in ‘n nuwe, skoon lewe met Christus opgestaan. As ons as gedoopte gelowiges sonder enige stryd en bekering altyd ons sondes die oorhand gee, maak ons God se genade goedkoop. Meer nog, dit is ‘n bewys dat jy nie waarlik wedergebore is nie. As iemand regtig die asemrowende genade van God verstaan, kan dit nie lei tot méér sonde nie! Wanneer ons teen die sonde stry, dan bevestig ons ons eie doop. Ons word verseker van ons eie wedergeboorte, as ons in onsself die stryd teen sonde voer en daarvan bekeer.

Dit is inderdaad, in die woorde van Newton, goed om te onthou hoe ‘n groot sondaar ek is. Sodoende sal ek ook noodwendig die asemrowende genade van my groot Verlosser onthou! Ons wil soos Hy word in alles wat ons dink, doen en sê. Die Gees herinner die wedergeborenes altyd aan hierdie twee dinge: hoe ‘n groot sondaar ek is en hoe ‘n groot Verlosser Christus is. Sal jy op jou sterfbed ook hiervan getuig?

 

 

Be First to Comment

Lewer Kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.