Press "Enter" to skip to content

Wat is die geestesrealm en kan ons iets in die geestesrealm “aanvoel” soos sommiges beweer?

 

Uitreksel van die vraag wat ontvang is:

“…Daar word so baie verwys en gepraat van “ek voel aan in die geestesrealm dat hier groot veranderinge plaas vind in ons land”. Wat is die geestesrealm? Hierdie is werklikwaar iets wat ek as GROOT SONDE sien. Word hier nie met vuur gespeel nie?…” (anoniem)


Die geestesrealm

Dat daar ‘n geesteswêreld, oftewel geestesrealm is, is ongetwyfeld waar. Ons stryd is juis nie teen die tasbare magte nie, maar teen die geeste wat ons nie kan sien nie. “Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug.” (Ef. 6:12).

Die Bybel openbaar aan ons wie in die geesteswêreld is. Onder andere natuurlik God self, maar ook die wesens om Sy troon soos die gerubs (Gen. 3:24), serafs (Jes. 6:2-3; Open. 4:6-11) en engele (Open. 7:1-4, 14:8). Daar is ook die sg. “gevalle engele”, oftewel die demone (o.a. Matt.10:1) wat nie uitverkore is om heilige engele te wees nie (1 Tim. 5:21). Die demone bestaan volgens Open. 12:4 uit ‘n derde van die oorspronklik-geskape engele. Dat demone bestaan, word veral vir ons bevestig in die verhale waar Jesus self die demone uitdryf (o.a. Luk. 7:21).

Die stryd om mag en gesag in die geesteswêreld is reeds gewen aan die kruis op Golgota. Jesus Christus het die oppergesag en outoriteit nie net oor die waarneembare dimensies nie, maar ook oor alle ander dimensies wat bestaan (Matt. 28:18). Alle mag in die hemel en op aarde, behoort aan Christus. Sy gesag strek dus oor die goeie en gevalle engele. Oor Migael die aartsengel, sowel as Satan en alle demone.

[bctt tweet=”Die stryd om mag en gesag in die geesteswêreld is reeds gewen.” username=”scriptura_tweet”]

Aanvoeling van aktiwiteite in die geesteswêreld

2 Kon. 6:16 sê dat Elisa die gawe van die Here gehad het om die geestesdimensie waar te neem: “Maar hy antwoord: Vrees nie; die wat by ons is, is meer as die wat by hulle is.”. Die daaropvolgende vers wys dan ook dat hierdie waarnemingsgawe abnormaal-bonatuurlik is en nie aan almal gegee word nie: “En Elísa het gebid en gesê: Here, open tog sy oë, dat hy kan sien. En die Here het die oë van sy dienaar geopen, dat hy kon sien, en meteens was die berg vol perde en waens van vuur rondom Elísa.” (2 Kon. 6:17).

Onderskei die geeste

In die Nuwe-Testament lees ons, sommige gelowiges ontvang wel die Geestesgawe om (tyds)geeste te onderskei (1 Kor. 12:10). 1 Joh. 4:1,2 gee ook aan gelowiges die opdrag om “die geeste op die proef te stel of hulle uit God is…” Hiermee word bedoel dat gelowiges moet toets of iets wat iemand sê van God of Satan kom. Is die persoon ‘n valse profeet of nie? Johannes gee dan ook die toets: “Hieraan ken julle die Gees van God: elke gees wat bely dat Jesus Christus Joh. in die vlees gekom het, is uit God; en elke gees wat nie bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het nie, is nie uit God nie; en dit is die gees van die Antichris waarvan julle gehoor het dat hy kom, en hy is nou al in die wêreld.” (1 Joh. 4:2,3).

Dit is ‘n opdrag aan alle gelowiges om te onderskei tussen waarheid en dwaling. Tog gee God ook deur Sy Gees aan sommige gelowiges vandag die gawe om fyn onderskeid te tref tussen die waarheid en die leuen. Hulle ontvang ‘n buitengewoon skerp sin vir dit wat vals is. Die Here gee natuurlik hierdie gawe om Sy Kerk op te bou en te beskerm teen dwaalleer en valse profete.

Kan ons iets in die geestesrealm aanvoel?

Ek dink mense wat sê hulle “neem iets waar in die geestesrealm” gewoonlik nie verwys na hierdie opdrag of gawe van onderskeiding nie. Hulle verwys eerder daarna dat hulle kan voel hoe iets verander of “skuif” in die nie-waarneembare geestesdimensie/s. Hulle bedoel soms dat iets soos bv. ‘n massa-gebedsdag, ‘n “skuif” in die geestesrealm gebring het. Sulke opmerkings is veral prominent in charismatiese kringe. In die lig van o.a. 2 Kon. 6, is dit vir my duidelik dat die gawe van Elisa nie as ‘n reël aan elke gelowige geskenk word nie. Ons vind dit as ‘n uitsondering, binne die Ou-Testament en nie weer in die Nuwe-Testament nie. Verder het Elisa nie die gawe ontvang om die engele of iets in die geesteswêreld te verander nie. Hy het bloot waargeneem wat God reeds bewerk het.

As daar enige veranderinge in die geesteswêreld aangebring word, dan doen Christus dit. Hy regeer immers oor dit alles. Die Here kan, deur Sy genade en barmhartigheid gebede aan Sy kinders gee, sodat Hy deur die verhoring van daardie gebede verandering in die geesteswêreld sal bewerk. Mense wat “vlees en bloed” is, kan nie iets wat gees is voel beweeg nie. Dit is twee (?) verskillende dimensies. Sodra die (tyds)gees op een of ander manier waargeneem word, kan ons onderskei, ja. Andersins kan iets nie in die geesteswêreld “aangevoel” word nie.

Waarneming deur die Woord & Heilige Gees

Die waarneming van die geesteswêreld is vir ons moontlik wanneer ons waarneem wat God in Sy Woord (daaroor) sê. Die Heilige Gees maak dan ook vir ons dit wat in die Woord staan helder en duidelik. Wanneer ons “vol is” van die Woord (Ef. 5:18), word ons gewete sensitief vir die dinge wat van God is en dit wat nie van God is nie. Die Woord en Gees kan nooit vanmekaar geskei word nie. Oor die geesteswêreld kan ons dan ook net sê wat God se Woord daarvan sê. Enigiets meer is teoreties, want ons beweeg en leef in ‘n ander dimensie. Ons moet wegbly van allerlei emosionele en subjektiewe “waarnemings” van die geesteswêreld.

Die Here se openbaring in hierdie laaste dae is nie selektief nie. Dit wil sê, Hy gaan nie vir een persoon iets openbaar, maar dit ‘n geheim hou vir die res van die Kerk nie. Die Here het nie dubbelstandaarde nie. Wie in Christus is, “leer die verborgenheid van God en van die Vader en van Christus [ken]” (Kol. 2:2).

[bctt tweet=”Die Here het nie dubbelstandaarde nie.” username=”scriptura_tweet”]

 

Be First to Comment

Lewer Kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.