Press "Enter" to skip to content

Hoekom sing ons Psalms?

Ons gesels oor die twee aspekte van hierdie vraag:
(1) Hoekom sing Christene in tye van aanbidding?
(2) Hoekom juis Psalms sing?

Om die vrae te beantwoord kyk ons na Efesiërs 5:18,19 & Kolossense 3:16, wat Augustinus, Luther & Calvyn oor die Psalms sê en uiteindelik wat die plek van Psalms in ons aanbidding het.

BRONNE WAARUIT AANGEHAAL IS:
Prof. VE d’Assonville se:
-Die Psalmboek as ons Reformatoriese erfenis &
-Die Psalms sing van Christus
TRANSKRIPSIE

Die hele skrif is deur God geasem, sê 2 Timoteus 3:16. Die Woord van God is lewewekkend. Welkom by Radio Scriptura, ’n gereformeerde potgooi waar ons saam gesels oor wat God in sy lewewekkende Woord sê, oor verskeie temas en gebeurtenisse in die kerk en sameleweing. Hier is jou gasheer, Marnix Boersema.

 

MB: Baie dankie dat jy luister na nog ’n episode van Radio Scriptura. Op hierdie episode gesels ek saam met Jan-Louis Lee oor die vraag: Hoekom sing ons Psalms? As hierdie die eerste keer is wat jy luister na een van ons episodes, gaan gerus na Scriptura.co.za vir meer inligting.

MB: Ons gaan gesels oor hoekom sing ons Psalms en daar is twee tekste wat veral relevant is hier, Efesiërs 5 en Kolossense 3:16. Ons gaan later hulle ook in die episode seker herhaaldelik noem en bietjie daaroor gesels en ek dink, Jan-Louis, jy gaan ook ’n paar goeters daaroor sê. En hierdie vraag, hoekom sing ons Psalms, is eintlik baie baie interessant, want ons moet een trappie terug gee, ons moet eintlik eers begin by die vraag, hoekom sing Christene enigsins. Hoekom sing ons in die erediens, voor mens nou oorgaan tot by wat ons sing en hoekom ons Psalms sing. So, ’n vreemde verskynsel, sou ek eintlik sê, onder Christene en die kerk, is dat ons sing, dat ons tydens aanbiddens sing tot eer van die Here. Hoekom gebeur dit? Hoekom sing ons in die erediens?

J-LL: Jy sien, daar slaan jy nou die spyker op die kop, Marnix. Voordat ons kom by hoekom sing ons Psalms, is dit ’n belangrike vraag: hoekom sing ons? En daai vraag het my so bietjie onkant gevang, want daar was vir my nog nie nooit een gedagte van dat ons nie sou sing nie.

MB: Dit is eintlik nogal vanselfsprekend, veral as jy grootgeword het in die kerk. Ons sing nog altyd, so hoekom enigsins die vraag vra?

J-LL: Dan kom ’n mens partykeer by troues en begrafnisse waar daar nie gesing word nie, dan voel dit vir my so half iets kort. Ons aanbidding is nie volledig as ons nie sing nie.

MB: Iets van die aanbidding val weg, of daar is ’n leemte.

J-LL: Dan gaan ek na Psalm 100 toe, nou praat ons oor Psalms en ons praat oor hoekom ons sing, en dan wil ek baie graag, ironies genoeg, dan nou uit ’n Psalm antwoord. Psalm 100 sê: “Juig voor die Here, o ganse aarde, dien die Here met blydskap, erken dat hy God is.” As ons kan begin met ’n tipe van ’n antwoord vorm, dan sê ons ons sing, ons sing vir die Here, omdat hy God is, en ons sing omdat die Here goed is.

MB: Ja, as ons kyk na Efersiërs 5 en Kolossense 3, dan staan daar vir my ook ’n paar goeters uit. Die een is Efesiërs 5:18 en 19 en die ander een Kolossense 3:16. Dit is seker voor die hand liggend as mens nou die twee tekste langs mekaar sit, dit is nou die twee tekste wat baie sê oor Psalms en geestelike liedere, lofsange en so aan, wat uiteraard dan nou ook praat van sing. En daar is vir my veral vyf goed in hierdie twee tekste hoe ek die vraag vir myself kan uitmaak, hoekom ons sing. Die eerste, in Efersiërs 5:18 is dat sang tydens ons Christelike aanbidding… Net so terloops, ek sit nou en dink of daar ’n ander gelowe is wat sing. Mens dink aan matras en mens dink aan die Imam en so wat oor ’n luispreker sing, maar ek kan nou nie, as ek nou so vining dink aan ander gelowe wat soos ons, soos die Christene saamsing, ek weet nie… Jan-Louis, is ek, sit ek nou die –.

J-LL: Ek sit nou en dink ook saam met jou. Ek dink ’n bietjie aan die Mormone en die Jehova-getuie. Ek dink die Mormone is bekend daarvoor dat hulle sing.

MB: Dis reg, ja.

J-LL: Maar ek kan nou vining dink aan ander gelowe, as ek nou spesifiek kyk na die Hindu’s… Ek kan nie dink dat hulle sing nie.

MB: Okay, maar in elke geval, as ons terugkom by die Christelike sang, die Christelike aanbidding, sang tydens aanbidding. In die lig van Efesiërs 5:18, 19, dit is nie bloot ’n sosiale of tradisionele verskynsel nie. Dit is iets wat die Here direk in sy Woord beveel. In Efesiërs 5 staan daar: “Word met die gees vervul,” en direk daarna, “Spreek onder mekaar met Psalms en lofsange en geestelike liedere en sing, en Psalms sing in julle hart tot eer van die Here.” So daar is ’n defnitiewe bevel, opdrag in die Woord van die Here om te sing. Dit is nie net iets wat bloot spontaan gebeur het vanuit ’n kulturele oogpunt, of ’n tradisionele oogpunt nie.  En, jy weet, Kolossense 3:16, is die ander teks wat sê: “Sing in julle hart met dankbaarheid tot eer van die Here. Dit is die een ding wat vir my uitstaan, dat die Here beveel hierdie aanbiddingssang, beveel hy in sy Woord. En die tweede ding, wanneer ons sing wat die Here vir ons gee om te sing, dan is daardie sang ’n middel van die Here aan ons om ons met sy Gees te vervul. Ek weet nie of ek dit reg verwoord nie, maar ek dink jy verstaan wat ek probeer sê. En dit is belangrik as ek sê dat ons sing wat die Here vir ons gee om te sing, dan is dit ’n middel waarmee die Here ons met sy Gees vervul, want Efesiërs 5, daai eerste sinnetjie sê: “Word met die Gees vervul,” en direk daarna sê hy spreek en sing Psalms.

J-LL: En Kolossense wat sê: “Leer en vermaan mekaar met hierdie liedere.” Wat interessant is, Marnix, as mens kyk na baie van hierdie Psalms, ek dink nou spesifiek aan Psalm 104: “Waak op, my siel en loof die Heer.” Dit is iets wat die Here in mens se hart opwek, alhoewel dit nie gebore is uit tradisie nie, dit tog iets van ’n spontaniteit in die gelowige se hart is. Ek kan nie anders nie. Psalm 108: “My hart is gerus, ek wil sing en ek wil psalmssing, ja, my eer. Waak op, met harp en siter, ek wil die daeraad wakker maak.” Dit is iets van ’n spontaniteit wat, as ’n gelowige werklik sy verlossing verstaan, en hy kom voor die aangesig van die Here, dan kan dit nie anders as om gepaard te gaan met die jubelende lofsang nie.

MB: Dit is asof die wedergebore hart moet sing, wil sing.

J-LL: DIt kan nie anders nie, dit is hoekom dit eintlik so ’n snaakse vraag op die oor is, want vir ’n gelowige is sang eintlik maar integral deel van die sy aanbidding. Onthou die Psalms is ook gebede. En dit dring diep in jou hart in en verwoord partykeer emosies wat jy nie eers geweet het jy het nie.

MB: ’n Derder rede wat ek ook sien in Kolossense 3:16, ons spring nou maar so tussen die tekste deur, maar dit help ons om bietjie ’n idee te kry oor hoekom ons as Christene sing. Wanneer ons sing wat die Here vir ons gee om te sing, daardie sang laat die Woord van Christus ryklik in ons woon. Daar staan: “Laat die Woord van Christus ryklik in julle woon in alle wysheid,” en dan weereens, net daarna, “leer en vermaan mekaar met Psalms.” So, die Psalms is nog ’n manier wat ons as ’n gemeenskap van heiliges, die woord van Christus ryklik in ons kan woon. Dis asof die sang ons aanbidding af rond, die sang gee daai ekstra dimensie aan die woord van Christus, deurdat ons dit self, deur ons harte op ons lippe neem en saam sing. En ’n vierde aspek in Kolossense 3:16 oor hoekom ons sing, is wanneer ons as gelowiges saam sing in aanbidding, en ons sing wat die Here vir ons gee om te sing, dan dien dit ook as opbou van mekaar. Jy kan dit duidelik hier sien, leer en vermaan mekaar. Die sang het een of ander samebindende krag, wel sekerlik nie die sang nie, maar dit wat ons sing. As ons die woord van die Here sing, dan bou di tons op as ’n gemeenskap. En die laaste enetjie wat ek uit hierdie twee tekste kan haal, is wanneer ons met dankbaarheid sing wat die Here vir ons gee om te sing, dan, dit is voor die handliggend, dink ek, maar dis nodig om te sê, dan eer ons die Here. En ek dink jy het dit al genoem, in Psalm 100 wat jy aangehaal het: “Laat die woord van Christus ryklik in julle woon in alle wysheid,” sê Kolossense 3 weereens. “Leer en vermaan met Psalms, lofsange, geestelike liedere, sing in julle hart met dankbaarheid.” Laaste sinnetjie: “Tot eer van die Here.” So, ons sang is Soli Deo Gloria, dit gaan oor die eer van God.

J-LL: As jy bietjie terugdink, dan buig Paulus, terwyl hy die brief aan Efersiërs skryf, daar in hoofstuk 3, dan buig hy knieë en hy bid voor die Here vir die gemeente. En dan sê hy, baie mooi, ek wil net gou hier lees, Efersiërs 3:14-18, ek gaan nie die hele gedeelte lees nie: “Ek bid dat hy aan julle mag gee deur die rykdom van sy heerlikheid om met krag versterk te word, deur sy Gees, hierdie innerlike mens.” As mens dit bietjie vergelyk met Kolossense, en dit wat dan nou later in Efesiërs staan, is dit nie presies wat sang dan doen nie, is om ons innerlik te versterk en om vir ons die liefde van Christus te laat begryp. Daai liefde wat geen hoogte en breedte en diepte en lengte kan omvat nie.

MB: As ons sing in die erediens, dan moet ons eintlik ons gedagtes daarop rig, hierdie waarhede wat jy ook nou lees uit die Psalms, sang is absoluut ’n gawe wat die Here vir ons gee om te kan doen, en te dien tot sy eer, dit dien as opbouiing van die gemeenskap, dit is eintlik ’n kragtige hulpmiddel wat die Here deur sy Gees vir ons gee vir ons eie heiligmaking, die opbou van ons eie geloof, om die Woord van Christus in ons ryklik te laat woon. So, dit was die eerste stap in ons vraag, Hoekom sing ons Psalms in die erediens. As ons dit vir onsself kan tuisbring, dan moet ons eintlik ook weer gaan kyk, elkeen na ons eie plaaslike gemeente, ons eie geloofslewe, en sê, maar hoor hier, is daar nog goeie, opbouende, Christelike aanbiddingsang waar ek nou is. Want sang is iets wat ons nie kan nalaat wanneer ons die Here se woord in ons wil laat woon nie. En dit bring ons nou by die tweede deel en die eintlike, die volle tema van ons episode: Hoekom sing ons Psalms in die erediens. Hoekom sing ons juis hierdie ou waarhede, die ou Bybelse boek, die Psalmboek, soos dit in die Bybel staan. Hoekom sing ons juis dit, is daar enige waarde daarin, is dit enigsins van nut vandag nog vir die moderne mens om die Psalms te sing?

J-LL: Die kerk het in die geskiedenis, waar hulle afgewyk het van Psalmsang, was dit as gevolg van groot dwalings en toe die hervorming gebeur het en die Psalmsang vind weer sy regmatige plek in die erediens, was dit as gevolg van suiwere woordbediening. So, daai twee goed loop hand aan hand.

MB: Jy sê nou iets wat baie waar is en wat my opgeval het, en ek het nou die dag ook met iemand daaroor gesels, ek is redelik oortuig daarvan, as ’n mens nou gaan kyk in die kerkgeskiedenis ook, dat dwaalleer word die kerk ingesing. As jy nou gaan kyk na die kerkgeskiedenis en so, wanneer dwaalleer begin posvat in ’n gemeente of hoe dit ookal sy, is dit gewoonlik omdat dit daar ingesing word. En nie direk, blatant gepreek word nie, of nie direk so op die oog af sigbaar is nie. Want sit jy ’n mooi melodie saam met dwaalleer, dan kry iets wat jy maklik die kerk kan insing, en ek weet nie, ek gaan dalk te ver, of dis dalk bietjie van ’n stereotipe, maar ek dink dwaalleer word die kerk ingesing as een van die eerste aanslae en daarna sal die dwaalleer dan ook soos ’n kanker versprei en elke hoekie inneem.

J-LL: Jy sien, ek wil nou nie vanoggend hier oor Disney en flieks en sulke goed praat nie, maar as ’n mens partykeer in ’n filmteater sit en jy kyk nou hierdie mooi fliek, dan ewe skielik dan word jou hartsnare geprikkel en voor jy jouself kan kry, dan raak jy emosioneel en kort voor lank huil jy. En baiekeer as ’n mens dan uitstap, dan wonder jy, maar wat het nou eintlik gebeur en as jy dan nou mooi gaan dink, dan sal dit wees as gevolg van die musiek in die agtergrond. Musiek het ’n geweldige-

MB: Emosionele effek?

J-LL: Ja. Om tot in jou hart in te gaan. Daai melodie prikkel jou hart en voor jy jouself kan kry, dan word daai trane hier diep uit jou uit getrek. So baiekeer sing mense partykeer net ’n liedjie agter die melodie aan, en nie agter die woorde aan nie.

MB: Dan fokus jy eintlik op die inhoud en nie op wat jy regtig sê nie. En kyk, die tekste het ook gesê, Kolossense 3 en Efesiërs 5 sê, sing met dankbaarheid in jou hart en laat die Woord van Christus ryklik in jou woon. So, daar is ’n innerlike dimensie, dis presies wat jy nou sê. Wanneer ons iets sing, dan is daar iets wat aan jou binnekant gebeur, daar is ’n innerlike dimensie, daar is iets wat in jou hart ingeplant word, ingesing word. So, mens dink miskien in terme van, ek sing Psalms en ek sing lofliedere tot eer van die Here en jy dink dit het meer ’n uiterlike dimensie, waar ek buitentoe sing. Wat waar is, want ek ding om die ander te leer en te vermaan, en so. En om saam te bind as gemeente. Maar daar is ook hierdie aspek van die sang en die erediens, dat ek sing iets binne-in my hart in. En dit is hoekom ons baie mooi moet gaan kyk, wat is dit wat ek sing? Wat sing ek in my hart in? En dit is hoekom heierdie vraag dink ek so belangrik is. Hoekom sing ons juis Psalms? Wat is dit wat ek in my hart moet insing?

J-LL: ’n Mens kry baiekeer die gevoel, veral vanuit mense wat negatief, veral teenoor die Psalms staan, hulle sê dit is ’n ou boek, dis ou woorde, dit is moeilik en die melodie… En jy ken al al die klagtes. En dan voel dit partykeer so, dan staan ek party Sondae daar in die erediens en dan tref daai woorde. As jy nou vat Psalm 51, hierdie lied van Dawid, van sy owerspel, wat hy werklik gekonfronteer is met die growwe afgodery wat hy in sy hart gepleeg het. Dat hy moord gepleeg het, dat hy owerspel gepleeg het. Jy sien daai emosies in die Psalm so verwoord en dan tref dit jou dat die woorde van Natan eintlik ook op my van toepassing is. Jy is die man. En as daai besef werklik in jou hart begryp, dan is daar nie ’n kat se kans dat jy ook emosioneel gaan raak nie. So, die Psalms is nie anti-inteleektueel of anti-emosioneel, eeder, nie. Dit is waar daai twee dinge saamkom, dis emosie en kennis wat jou werklik tot ’n sondebesef, of tot ’n dankbaarheidsbesef, want daar is nie net boete-Psalms nie, om jou tot daai besef te bring tot “ek is die man”, ek het ook so gemaak soos Dawid.

MB: Ja, die Woord van die Here, as ons dit sing, spreek elke deel van ons wese aan, so jy kan nie net, sê nou maar ’n intellektuele oefening hê, goeie teologie sing sonder dat jou hart nie daarby ingetrek word nie. En dis nogal opvallend as mens gaan kyk, weereens bietjie in die geskiedenis gaan inkyk, en na die kerkvaders, dan is dit vir my besonders om te sien dat meeste van die godsmanne in die kerk se verlede wat ’n groot impak op die kerk gehad het, meeste van daai mans, van daai vaders, het ’n besondere liefde vir die Psalms gehad, hulle het groot erns gemaak met die Psalms.

J-LL: Die vroeë kerk het eintlik-, daar was nie ’n kwessie nie, hulle het net een ding gesing, die Psalms, daarsy.

MB: Kyk, die Psalms kom reguit uit die ou testament, die gelowiges in die Ou Testament, die gelowiges in die nuwe testament, sing nog altyd die Psalms. En die vroeë kerkvaders ook. Dis nou in die laaste tyd, wat dit nou eintlik bietjie van ’n diskussie begin word het oor het die Psalms nog ’n plek in die erediens. As ’n mens nou gaan kyk, ek het nou gepraat van die kerkvaders, vat byvoorbeeld iemand soos Augustinus, kerkvader Augustinus, hy het gesê, hy skryf, dis baie interessant, hy het sy lewe lank eintlik gewerk aan ’n kommentaar op die Psalms. Ek dink dis een van die grootste teologiese kommentare, een van die grootste werke wat ons het. Ek is nou nie seker nie, ek praat onder korreksie, maar hy sê die Psalms is soos ’n spieël vir ons, as die Psalm-skrywer bid, dan bid ek saam, as die Psalms-skrywer hartseer, dan is ek saam hartseer. En wanneer ’n mens van Augustinus se werke gaan lees, hy het, een van sy groot werke is: The Confessions, weet nou nie of daar ’n Afrikaanse vertaling daarvoor is nie. Dan kom ’n mens agter, iemand het gesê van Augustinus, hy praat eintlik in twee tale, of hy skryf eintlik in twee tale, hy het geskryf in Latyn, en in die taal van die Psalms. As jy sy boeke deurlees, dan kom jy agter, hierdie man is so deurspoel met die woorde van die Psalms dat dit wat hy skryf amper klink soos die Psalms. En nou is die een, ek weet nie of dit ’n legende is nie, ek dink ’n geskiedskrywer het dit ook opgeteken, sodat toe Augustinus op sy siekbed was toe hy net voor sy dood was, het hy versoek dat van die Psalms, onder andere ook Psalm 51, wat jy ook netnou aangehaal het, dat die Psalm neergeskryf word en teen sy muur vasgesit word. En elke keer as hy dan op sy siekbed dan lê, dan blykbaar, so gaan die verhaal, het hy dan na die muur gekyk, die Psalms oor en oor gelees en biddend, huilend dit gesing, daar op sy siekbed, net voor hy dood is. Dis iets besonders, die Psalms het hierdie man se lewe absoluut deur, ja, weet nie wat is die woord nie. En kyk watter enorme invloed het, hy is sekerlik die grootste kerkvader wat op die ou end van die dag ook vir Calvyn beïnvloed het en wat ook nou ons in ons gereformeerde leer soveel wortels het in die leer van Augustinus.

J-LL: Dit is interessant dat jy nou ook, ekskuus dat ek nou daarby kan inkom, as jy nou bietjie gaan dink oor Calvyn en die Psalms, ’n besondere mooi storie. As ’n mense teruggaan na 1535, 36, 38, dit maak seker nou nie saak nie, kom hy terug in Geneve. En die hervorming het al klaar deur die stad gegaan, en hulle het weer begin om die woord te preek en die suiwere woordbediening was weer op die kansels, en daar was steeds in die eredienste ’n massiewe leemte, en daai leemte was die gemeente kon nie sing nie. Nou, onthou nou mooi wat in die Roomse kerk die geval was. Niemand het hierdie lidmate, hierdie kervolk, leer sing nie. Niemand het al ooit vir hulle gesê die woorde van die Psalms kan julle sing of dit vir hulle berym, of vir hulle in staat gestel om te sing nie. In die Roomse kerk was dit net die priesters wat gesing het, en dan het hulle in Latyn gesing. En dit was ’n taal wat die kerkvolk nie kon verstaan nie. Toe kom Calvyn en hy worstel met daai vraag, maar waarmee moet die kerkvolk God dan loof? En dan sy antwoord, God moet met die Psalms verheerlik word, met die liedere uit die geskiedenis van die Christelike kerk. En…

MB: Dit wat die kerk nog altyd sing.

J-LL: Dit wat die kerk nog altyd sing. Voor die middeleeue was die Psalms ’n belangrike deel van die kerk se aanbidding en na mate die Roomse kerk nou opgang gemaak het, het dit uit die samekomste uit verdwyn. En dit was dan nou direk ’n gevolg van die agteruitgang en die verval van die kerk. En toe verdwyn dit des te meer. En Calvyn raak absoluut in vervoering oor die Psalms, as jy net gaan lees wat hy skryf in sy voorwoord van sy eerste bundel wat hy in Geneve uitgegee het. Daar is geen boek, hy sê dit vier of vyf keer, daar is geen boek waarin mens duideliker en mooier lofprysings vind oor God se besondere genadegawes en al sy werke as die Psalms nie. Geen boek waarin bevrydinge meer getuienisse, ervarings van God se voorsienigheid en vaderlike sorg wat ons vertel word nie. Geen boek waarin ons manier om God te loof, volmaakter onderwys word nie. Dan kom ons terug na Kolossense toe, en waarin ons vuriger gedryf word in ons oefening van ons Godvrug nie. En dan gaan dit aan, die Psalms is vol onderwysinge, om ons lewens te vorm tot heiligheid, gekape uit geregtigheid. Interessant, hy sê die Psalms leer ons om ons kruis te dra, want dit is die bewys van ons gehoorsaamheid. Daar is geen boek waarin ons die manier om God te loof, beter vind nie. Dit is die anatomie van die dele van die siel. Hoe mooi is dit? Belangrike punt hy maak, in die Psalm-boek, ek praat nou nie van die berymde Psalm-boek, noodwendig nie, maar in die boek Psalms in die Bybel, beskryf die Heilige Gees alles, smarte, droefheid, vrees, twyfel, verwagtinge, sorge, verslaenheid. Al die emosies wat ons werklik nie eers kan verwoord nie. Al die emsosies waarmee ons gemoedere geteister word, dit vind ons in die Psalms.

MB: Ja, as ’n mens gaan kyk ook, as ons glo, as ons verstaan dat die sang, die lied wat God  vir ons gee, as ons die Here se woord sing, dan is dit Heilige Gees wat ook, ek dink nou aan daai gedeelte in Romeine wat sê, ons weet nie wat om te bid nie, maar die Gees tree vir ons in met versugtinge wat ons nie kan verwoord nie. Nou, die Psalms is die woorde wat die Here vir ons self gee om dit te sing, want ons weet nie altyd wat om te sing nie. En die mooi hiervan, wat jy nou uitlig van Calvyn, is dat daar is niemand wat beter weet wat ek voel, hoe ek inmekaar gesit is, wat my situasie is as God self, as ons skepper en sy Heilige Gees nie. En wanneer ek dan die Psalms sing, daai wat Calvyn sê, wat is daai woorde, dit spreek tot die anatomie van die mens? Of dit spreek… van die dele van die siel, ja. So, dit is ’n manier hoe ons werklik kan verwoord wat regtig binne-in my aangaan, daar is ’n Psalm vir elke liewe emosie en elke liewe omstandigheid op aarde, en jy’t nou gepraat van die tyd toe die woord van Here stilgemaak is in die kerk, toe daar nie meer gesing is nie. En ons het dit nou genome, ek dink dwaalleer word die kerk ingesing. Nou wonder ek nogal, word dwaalleer nie ook in die kerk gevestig wanneer die kerk nie meer sing nie, want wanneer ’n gemeente stilgemaak word op so ’n manier, stelselmatig, soos wat dit in die verlede gebeur het, dat daar vir hulle voorgesing word of dat hulle ietsie hoor wat vir hulle gesing word wat eintlik onverstaanbaar is, so hulle word stilgemaak, die Psalms word uit hulle monde geroof. Dan sien jy hoe vestig daar al hierdie vreemde idees, en vreemde gedagtes, want die Psalms, die sang van die Here, die woord van die Here wat gesing word is juis daar om die kerk te louter en te suiwer, want dit is die woord van die Here wat ryklik in ons kom woon, en ons leer en vermaan mekaar daarmee. So, neem jy dit uit ’n gemeente uit weg, dan neem jy die leringe en die vermaninge uit die mond van die lidmate uit, jy vat dit uit. So, ek wonder nogal, of dwaalleer…

J-LL: Ek is geneig om met jou daar saam te stem, ek het dit al ’n paar keer ervaar dat, jy kom by lidmate, by ’n siekbed of ons gesels as gelowiges rondom ons gebede en hoe mense partykeer sukkel om hulle gebede, daai ou storie van dit voel vir my of ek teen die plafon vasbid. En dan is dit nogal vir my opvallend hoe baie mense in die geprek dan oorgaan om te sê, maar as ek nie weet wat om te sê nie, dan bid ek ’n Psalm, of dan sing ek ’n Psalm. En ek het dit myself al gekry, dat baiekeer as ek daar langs ’n siekbed staan, veral by mense wat terminaal siek is, dan het ek werklik nie woorde in my mond nie.

MB: En ek weet nie wat on te bid nie, ek weet nie wat om te sê nie, ja.

J-LL: Ek kan nou een spesifieke geval onthou van die tannie is regtig op haar laaste, en sy is baie life gewees vir Psalm 42, en daar staan ons, ek en haar kinders, en ons sing Psalm 42. Jy weet, dit is werklik, mens kan net dit beskryf wat dan oor jou kom as jy sê: “Soos ’n hert in dorre streke, skreeuend dors na die genot van die waterbeke, so skreeu my siel na U, o God.” Jy weet, in daai laaste oomblikke van die tannie se lewe is dit die woorde wat sy die here tegemoet stap. Jy weet, dit kan nie anders… Om nou by jou punt aan te haak, van as dit nie in ’n gelowige se mond is nie, wat sê jy dan vir die Here?

MB: Ja, dit is eintlik ’n groot onreg wanneer die woord van die Here uit die mond van die lidmate geneem word, gesteel word, stilgemaak word. Dit was Augustinus en Calvyn, en natuurlik ook die groot hervormer, Luther, wat in die reformasie, hy’t natuurlik die hele, wel deur die genade en uit die Heilige Gees, het die reformasie maar eintlik soos ’n veldbrand begin versprei met Luther, en hy’t net so groot erns gemaak met die Psalms. Hy het die Psalms gebid, gesing, gepreek, geleer vir sy studente. Hy was ’n professor van die Psalms, dis wat hy in die klaskamer vir die studente geleer het.

J-LL: Was dit nie juis die Psalms wat die reformasie, saam met Romeine, aan die gang gesit het nie?

MB: Presies, ja, dis nou ook wat ek wou sê. Deur die Psalms het die Here eintlik die vuur van die reformasie eintlik aan die brand gesteek. Meeste van ons wat bietjie opgelees het oor die reformasie, gewoonlik kom Romeine 1 by ons op, of byvoorbeeld Galasiërs wat ook ’n groot rol gespeel het in Luther se denke, en die hervorming. Maar die groot vonk het eintlik gekom toe hy die Psalms begin bestudeer en gelees het. Hy noem, ek weet netnou toe ek en jy gesels het, so oor die foon, het jy gesê van hoe Luther ook gepraat het van die Psalms as ’n Bybel in die kleine, wat is daai woorde wat jy gebruik het?

J-LL: Hy praat van ’n ‘eine kleine Biblia’, klein Bybeltjie.

MB: Ja, ’n miniatuur Bybel, dis vir asof, ek het ook op ’n kol gelees, hy sê dis asof die Heilige Gees die Bybel op ’n manier kort en bondig wou saamvat. Dit het vir hom voorgekom, dit voel vir hom asof die Gees die Bybel op ’n manier kort en bondig wou saamvat en daarom het ons nou die Psalm-bundel in die Bybel. Ons praat nou nie van berymings nie, ons praat nou van die Psalm-boek.

J-LL; Kyk, alles wat ons in die res van die skrif lees, vind in die kleine in die Psalm-boek, net in die res van die skrif is dit uitgebreid. Die Psalm-boek sê Luther, dit is half ’n samevatting van die mens se lewe in die Psalm-boek, ons geboorte, huwelik, hy noem ’n klomp goeters daar. Daar is nie ’n enkele ding wat ek, ek praat nou so vining, maar ek dink nie daar is ’n enekele ding wat die Psalms nie aanspreek nie.

MB: Dis weereens daai waat Calvyn ook sê van dit spreek tot elke deel van die siel, en Luther skryf ook op ’n ander plek, sê hy, die Psalms is ’n gebedshandboek. Dit sluit aan by wat die ander kerkvaders ook gesê het, enige gelowige, skryf hy, wat met diepgang, wat met geestelike groei wil bid, moet die Psalms bid. Alles waarvoor ons ooit wil of kan bid, is in die Psalms opgeskryf. En dit sit nou weer ’n ekstra dimense  aan die Psalms vir elkeen van ons gelowiges, vir ons lewe, dat ons nie net die Psalms in die erediens sing nie, nie net die Psalms in ons eie huisgodsdiens sing en vir ons kinders leer nie, maar dat ek kan ook die Psalms persoonlik in my eie stiltetyd, ek kan die Psalms bid. Dit is lyk my, as ’n mens kyk na wat Luther gedoen en wat hy skryf, hy het die Psalms gebid, hy het dit gelees en dan self op ’n manier dit vir homself, sy eie naam, wil ek amper sê, daar ingeskryf en dit teruggebid vir die Here. Blykbaar, toe hy gehoor het dat sy pa oorlede is, toe het hy sy, hy was by een van sy vriende of kollegas, ek kan nou nie presies onthou nie, toe hy verneem van die nuus, toe het hy onmiddelik sy Psalm-boek gevat en in sy kamer gegaan en die hele nag deur gehuil en homself vertroos met die woorde van die Psalms. So, hy was absoluut ’n man van die Psalms. En net voor sy dood, het hyo ok voor in sy Bybel die woorde Psalm 119:92 geskryf: “As u wet nie my verlustiging was nie, dan het ek omgekom in my ellende.” DIt is vir my absoluut treffend dat hierdie groot kerkvaders, hierdie groot godsmanne, dat hulle so erns gemaak het met die Psalms, dat die Psalms eintlik heeltemal deurweef was met hulle lewe, en dit los mens nou met die vraag, maarhet die Psalms nog enige waarde vir ons as gelowiges van vandag se tyd? En jy kan nie anders as om te sê, nie net het dit waarde nie, maar dit is ’n absolute skat wat die Here vir ons gee, wat ons nie kan nalaat nie. Ons mag nie.

J-LL: Nee, dit is asof daar iets, wat nie verlore gaan nie, maar, weg is as die Psalms nie daar is nie. Kom ek gaan nou na wat Calvyn gesê het, en hy verwoord dit dalk beter. Hy sê daarom, nadat ons noukeurig ondersoek ingestel het en hier en daar gesoek het, sal ons geen beter liedere vind, nog wat beter aan die doel beantwoord, as die Psalms van Dawid wat die Heilige Gees, deur hom gespreek en gemaak het nie. En buitendien, as ons hulle sing, is ons seker dat God hulle ons in die mond lê, asof hy self sing, in ons om sy roem te verhef.

MB: As ek nou kan aansluit by wat jy sê, dat ons mooi moet gaan kyk, dit kom nou by die praktyk. Ek dink dat ons as gelowiges mooi vir onsself gaan uitmaak of die Psalms nog werklik deel uitmaak van ons Christelike lewe, van ons Christelike aanbidding. Is dit regtig in die hart van ons aanbidding, want ek dink dit hoort daar, en dit moet daar wees, en dit is van groot waarde vir die kerk, en nie deur nie te sing wat die Here vir ons gee nie, deur iets anders te begin sing, is ons besig om dwaalleer in die kerk en in ons harte in te sing. En wanneer die woord van die Here stilgemaak word, en uit die mond van die gelowige uitgeroof word, dan is ons op ’n gevaarlike pad. En nou dink ’n mens onmiddelik, en ek weet baie van ons luisteraars sal verskil oor hoe ’n mens dink oor die Psalms en oor die sang in die erediens en ek weet iets wat mens gewoonlik hoor of sê, is ja, maar die tekste sê dan, Efesiërs 5, Kolossense 3, sê dan Psalms, lofsange en geestelike liedere, as of dit vir ons iets van ’n ruimte gee om, die Engels praat van gospel-liedjies. Daar is iets van ’n ruimte in daai woorde, Psalms, lofsange en geestelike liedere om ook iets van ’n ander moderne worship, gospel-liedjie ook in die kerk in te kan sing. En, miskien wil ek net daar noem dat die Psalms, lofsange en geestelike liedere, die drie woorde wat hier gebruik word, is bloot drie verskillende woord wat gebruik is vir die liedere in die Psalm-bundel. By die een Psalm word die opskrif Psalmoi gebruik, by die volgende lied word die opskrif Himnoi gebruik. So dit is bloot drie sinonieme name vir dieselfde ding. En wat ons nie moet mis hier nie, is geestelike liedere. Geestelike liedere moet mens dalk sien as die oorhoofse kategorie van hierdie drie. Maar ’n geestelike lied verwys nie daarna dat jy ’n vrye gospel/worship liedjie, dit gee jou nie die ruimte om daai goed te sing nie. Geestelike lied verwys na liedere van die Heilige Gees, dis ’n geesteslied.

J-LL: Maar dan moet ons ook onthou, daar is liedere in die Nuwe Testament wat aan hierdie kriteria voldoen, as jy nou dink aan die lofsang van Maria, van Sagaria, van Simeon, die engelelied. Die gedeelte daar in Filippense 2 wat in die vroeë kerk ’n lied was, Filippense 2:5-11. Daar is heelparty sulke liedere wat ook aan hierdie kriteria voldoen, wat liedere van die Gees is en wat as sodanig gebruik mag word.

MB: Skrifliedere is Gees-liedere, is geestesliedere, dis een en dieselfde ding. Jan-Louis, ek weet nie wat dink jy nie, ek dink, ek dink ons het die vraag goed deurtrap. Ja, hoekom sing ons Psalms, duidelik iets wat die Here vir ons in sy Woord gee om te sing, vir ons eie heiligmaking, vir die opbou van die kerk, dis iets wat hy beveel, dis iets om Hom te eer. Het die Psalms sodanig nog ’n plek en waarde in ons kerk. Onomwonde, moet ’n mens sê ja, dit het. En ons moet dit eintlik met alle erns beskerm en bewaar en dit moet ’n groot deel uitmaak van ons persoonlike- en gemeente-aanbidding. Weet nie of daar dalk iets is wat jy miskien daarby wil aanhaak nie? Voordat ons nou hierdie episode afsluit?

J-LL: Nee, ek dink die… Dit wat ons gesê het is belangrik, en as ons mooi onthou, net ten slotte, is dat hoe wondelik is die Psalms nie saamgestel, dat terwyl ons die Here loof en prys, Hy ons ook met hierdie woorde troos nie. Daar’s nie ’n enkele ander lied wat dit kan doen nie.

MB: Jan-Louis, ek sê vir jou baie baie dankie. Dankie dat ek met jou ’n paar gedagtes kon wissel, dat ons saam ’n bietjie klaarheid en helderheid kon kry oor hierdie vraag. Dankie vir jou tyd, vir jou moeite en ek hoop ons gesels sommer vining weer op ’n volgende episode.

Baie dankie.

Gesels verder met ons oor hierdie episode op Facebook, of Twitter en e-pos enige ander vrae wat jy het na info@scritpura.co.za. Daar word tweeweekliks op ’n Vrydag ’n nuwe tema-episode van Radio Scriptura gepubliseer. Dit sal ons baie help as jy Radio Scriptura evalueer en ’n resensie skryf op Itunes. Baie dankie dat jy hierdie episode met jou vriende deel. Besoek ons webblad vir meer inligting: Scriptura.co.za.

One Comment

  1. Trina Trina

    Julle woorde het weerklank in my eie hart gevind. Hoe wonderbaar is die Here se guns oor ons., dat Hy juis die Psalms aan ons gegee het. Baie dankie vir hierdie bespreking.
    “Loof, loof die Heer van alle here. Verhoog Sy naam en gee hom ere en bring sovêr daar volke is, Sy dade in gedagtenis en spreek met aandag en ontsag, van al Sy wonders dag aan dag.”

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

WhatsApp WhatsApp
%d bloggers like this: