Press "Enter" to skip to content

Die Heilige Gees stuur, lei en verbly

Die verhaal van Filippus en die hofdienaar van Etiopië is taamlik bekend; in elk geval baie interessant! In die gedeelte is die werk van die Heilige Gees, soos ook in die res van Handelinge, baie prominent:

Handelinge 8:26-40:

“En ‘n engel van die Here het met Filippus gespreek en gesê: Staan op en gaan na die suide op die pad wat afloop van Jerusalem na Gasa. Dit is ‘n eensame pad. Toe het hy opgestaan en gegaan. En daar was ‘n man van Ethiópië, ‘n hofdienaar, ‘n staatsamptenaar van Kandacé, die koningin van die Ethiópiërs, wat oor al haar skatte was en na Jerusalem gekom het om te aanbid. En hy was op die terugreis en het op sy wa gesit en die profeet Jesaja gelees.

Toe sê die Gees vir Filippus: Gaan daarheen en bly by daardie wa. En Filippus het daarheen gehardloop en hom die profeet Jesaja hoor lees; en hy sê: Verstaan u wel wat u lees? En hy antwoord: Hoe kan ek tog as niemand my die weg wys nie? Toe vra hy Filippus om op te klim en by hom te kom sit. En die gedeelte van die Skrif wat hy besig was om te lees, was dít: Soos ‘n skaap is Hy gelei om geslag te word, en soos ‘n lam wat stom is voor die een wat hom skeer, so maak Hy sy mond nie oop nie. In sy vernedering is sy oordeel weggeneem, en wie sal sy geslag beskrywe? Want sy lewe word van die aarde weggeneem.

En die hofdienaar antwoord en sê vir Filippus: Ek bid u, van wie sê die profeet dit, van homself of van iemand anders? En Filippus het sy mond geopen en van hierdie Skrif af begin en die evangelie van Jesus aan hom verkondig. En terwyl hulle voortreis op die pad, kom hulle by water; en die hofdienaar sê vir hom: Daar is water; wat verhinder my om gedoop te word? Toe sê Filippus: As u glo met u hele hart, is dit geoorloof. En hy antwoord en sê: Ek glo dat Jesus Christus die Seun van God is. En hy het beveel dat die wa moes stilhou; en hulle het altwee in die water afgeklim, Filippus en die hofdienaar; en hy het hom gedoop.

En toe hulle uit die water opklim, het die Gees van die Here Filippus skielik weggevoer, en die hofdienaar het hom nie meer gesien nie, want hy het sy weg met blydskap gereis. Maar Filippus is in Asdod gevind. En hy het die land deurgegaan en die evangelie verkondig in al die stede, totdat hy in Cesaréa gekom het.”

Drie aspekte van die werking van die Gees staan veral uit:

  1. Die Gees stuur
  2. Die Gees lei en
  3. Die Gees verbly

Die Gees stuur Filippus
Kom ons gaan staan vir ‘n oomblik in die skoene van Filippus. Wat baie opvallend is, is waarheen die Gees vir Filippus stuur.Hy stuur hom, sê :26 na ‘n stil, eensame pad. Hulle het dit destyds die “woestynpad” genoem. ‘n Droeë, gevaarlike en stil pad vanaf Jerusalem suidwaards in die rigting van Gasa. Daar was ook ‘n ander, meer gewilde en baie veiliger pad na Gasa – maar die Gees stuur nie Filippus op daardie pad nie. Filippus moet gaan na die eensame, woestynpad.

Sekerlik was dit vir hom ‘n vreemde opdrag. Dit maak tog nie sin nie? Waarom wegbeweeg uit die beskawing, uit die stedelike gebiede, waar al die mense is, na ‘n stil pad in die middel van nêrens? Filippus het glad nie verstaan wat op daardie pad sou gebeur nie – dit het eenvoudig nie sin gemaak om daarheen te gaan nie. Tog is hy gestuur en het gehoorsaam gegaan. En op die woestynpad sien hy toe ‘n wa! Enigiemand wat op ‘n wa gery het, was welgesteld – nie enigiemand kon ‘n wa bekostig nie! Dit was die wa van die hofdienaar uit Etiopië.

Weereens hoor Filippus die Gees; hy word gestuur: “Gaan en loop saam met daardie wa.” Die wa ry stadig genoeg, sodat die man op die wa kan lees. Hy lees hardop, soos dit die gewoonte was in daardie tyd. Filippus kan maklik opvang en stap langsaan die wa; Skielik verstaan hy waarom hy hierheen gestuur is, want hy hoor die man op die wa lees uit die boek Jesaja[1]! In die skoene van Filippus sien ons hoe hy gestuur word op die ongewone, onverstaanbare pad, om te doen wat die Gees wil hê hy moet doen!

Die Gees lei die hofdienaar
Kom ons gaan staan gou vir ‘n oomblik in die skoene van die hofdienaar op die wa. Dit was ‘n vermoeiende rys na Jerusalem. Hy is op soek na die God van die Jode. En hy is dringend, ernstig op soek na Hom! Maar, in Jerusalem aangekom was dit vir die Etiopiër heelwaarskynlik ‘n totale teleurstelling. Want, hy sou uitvind dat die wet van die Jode[2] sê, dat geen nie-Jood, geen heiden mag binne-in die tempel ingaan nie. Daar was ‘n gedeelte rondom waar die heidene mog ingaan, maar dit was steeds buite-om die tempel. Verder, het die Here ook die volgende bepaal in Deuteronomium: niemand wat ontman is, mag “in die vergadering van die HERE” nie ingaan nie. Die hofdienaar het hierdie reis aangepak om na die tempel te gaan – dalk sien of beleef hy die God van die Jode daar! Maar nou vind hy uit, dat hy as ontmande heiden, hoegenaamd geen toegang het tot die tempel nie.

Sy reis is ‘n teleurstelling. Moontlik voel hy as belangrike hofdienaar verneder en ook moedeloos. Daar is vir hom geen manier om naby aan God te kom nie. Hy is ver, uitgestoot, uitgewerp. Vir hom is daar geen kans op verlossing nie. Hy het moontlik in Jerusalem ten duurste die boekrol van Jesaja aangeskaf. Op sy terugreis het hy gelees, verder probeer uitvind hoe hy die God van Jerusalem kan vind! Hy kom toe af op die gedeelte in Jesaja 53. En skielik stap daar ‘n man langs sy wa! Dit was Filippus.

Filippus vra hom: “Verstaan u wat u lees”? Die hofdienaar moet erken. Hy verstaan nie. Hoe kan hy? “Hoe sou ek kon as niemand dit vir my uitlê nie?” Hy, die magtige, welgestelde hofdienaar van die koningin, vir wie niks onmoontlik is nie, selfs nie ‘n reis na Jerusalem nie, hy moet erken, hy het iemand nodig om hom te lei in die woorde van die profeet Jesaja!

Die Gees stuur Filippus, sodat hy die hofdienaar kan lei

Filippus moet hom lei om te sien dat Jesaja profeteer van Iemand anders, van Jesus Christus. “Soos ‘n skaap is Hy gelei om geslag te word; en soos ‘n lam wat stil is as hy geskeer word, het Hy nie sy mond oopgemaak nie. In sy vernedering het daar nie reg aan Hom geskied nie…” So is Jesus soos ‘n lam gelei om geslag te word. Hy is onskuldig veroordeel en nogtans het Hy nie sy mond oopgemaak nie, want wat met Hom gebeur was deel van God se ewige raadsplan. Hy, wat Jesus is, moet onskuldig en onregverdig beskuldig en verneder word. Hy moet die oordeel wat die mens toekom, dra. Ja, Hy wil dit dra! Hy word deur die goewerneur onskuldig verklaar, en tog skreeu die Jode “kruisig hom, kruisig hom!”

Die lam van God, Christus, word gegesel, geslaan, en uiteindelik gekruisig. “Wie sal van sy nageslag kan vertel? Sy lewe op aarde word beëindig.” Lees die hofdienaar verder in Jesaja. Jesus laat geen nageslag agter nie. Sy lewe word beëindig – wie sal van sy naam vertel? Hy laat geen nageslag agter nie. Amper soos die Etiopiër nie waar nie? As ontmande sal die hofdienaar geen nageslag agterlaat nie. Wie sal van sy naam vertel? Sy naam sal saam met hom sterf. En hierdie Jesus, wat ook geen nageslag gehad het nie? Het sy naam saam met Hom gesterf?

Luister wat sê Jesus self in Johannes 12:32: “En as Ek van die aarde af verhoog is, sal Ek almal na My toe trek”. Jesus Christus is onregverdig, onskuldig gekruisig, sodat hy die uitverkorenes sy kinders, sy nageslag sal noem. Hy het opgestaan uit die dood en opgevaar na die hemel. En daarna het Hy ook Sy Gees uitgestuur. Nou is Hy ‘n Vader vir Sy kinders. Sy nageslag is die gelowiges wat Hy na Hom toe trek. Wie sal van Sy Naam vertel? Hulle wat Sy Heilige Gees ontvang het, sal van Sy Naam vertel! Die Gees sal hulle stuur, die Gees sal hulle lei!

Die Heilige Gees stuur vir Filippus om die hofdienaar te lei in die Skrif. Die profesieë vertel van Christus!

Die Gees verbly gelowiges
Die hofdienaar word uiteindelik gedoop en hy het in blydskap verder gereis! Jesus Christus is aan hom geopenbaar, deur die kragtige werk van die Heilige Gees. Hy verstaan nou die profesieë! Enkele hoofstukke later in Jesaja 56 sou die hofdienaar ook die volgende woorde gelees het: “ ‘n Nie-Israeliet wat by die volk van die Here aangesluit het, moenie dink: die Here sal my van sy volk afsny nie. ‘n Ontmande moenie van homself dink: ek is maar ‘n droë boom nie. So sê die Here: Aan die ontmandes wat my sabbatte onderhou, wat kies vir wat Ek wil, en wat lewe volgens my verbond, aan hulle sal Ek in my tempel en aan sy mure ‘n teken gee, ‘n erenaam wat beter is as seuns en dogters. Ek sal aan sulke mense ‘n naam gee wat nie uitgewis sal word nie. Ek sal die nie-Israeliete wat by my volk aansluit om My te dien…vreugde gee in my huis van gebed…want my tempel sal uitgeroep word tot ‘n huis van gebed vir al die volke. Die Here my God wat die verstrooides van Israel bymekaarmaak, sê: Ek sal nog ander byvoeg by dié wat reeds bymekaargemaak is.”[3]

Díé profesie is besig om hier in Handelinge 8 in vervulling te gaan!! Die heiden-ontmande hofdienaar wat geen toegang kon kry tot die tempel nie, vir wie geen hoop op verlossing was nie het in Christus verlossing gevind! Die Here sal selfs vir hom ‘n erenaam gee, beter as ‘n nageslag! ‘n Naam wat in ewigheid nie uitgewis kan word nie! Jesus Christus, die die lam van Jes 53, is ook geoffer vir die Etiopiër, hy vorm nou deel van die tempel van God uit alle volke!

Die Here het vir hom vreugde gegee! Die Heilige Gees het hom verbly! Die Gees stuur, lei en verbly! Hoe onuitspreeklik groot is die Here, dat Hy presies weet waarheen mense gestuur moet word? Hoe almagtig is Hy, dat die profete deur die eeue geprofeteer het en vorentoe gewys het na ‘n Messias, ‘n Verlosser; na die Lam van God wat vir sondaarmense geslag sou word? Hoe wys is ons God, dat Hy nietige mense in die Skrif lei om Christus te vind?

Wanneer die Gees hierdie dinge vir ons oopmaak, kan gelowiges mos nie anders as om bly te wees nie! Die Gees verbly ons in die werke van Christus!

Hierdie Blye Boodskap uit Hand 8 is nogsteeds relevant vandag. Hoe?

Eerste word ons wat glo deur die Gees gestuur. En ons moet ons ook laat stuur.

Dit beteken dat ons eenvoudig getuig van wat ons glo in ons daaglikse situasie. By die huis, skool en werk. Ons word daar gestuur, al lyk dit nie vir ons altyd so nie. Onthou, die Here kan baie mense bereik selfs op eensame paaie. Hy kan die Evangelie oor die hele dorp, die hele land laat hoor uit die mond van enkele, nietige mense soos ons.

Tweedens moet ons ook mense lei, spesifiek lei in die Bybel om Jesus Christus raak te sien en te bely as hulle Verlosser en Saligmaker. En, ons moet nie net lei nie, maar ons ook laat lei.

Rykdom of armoede, hofdienaar of diaken, dit maak nie saak wat my status is of wie my lei nie – Ek moet my laat lei in die Skrif.

Derdens, is daar vir ons blydskap in ons verlossing!

Hierdie blydskap het jy dalk al geproe, of dalk nog nie. Tog moet ons sonder ophou aanhou om ywerig te soek na hierdie blydskap – soek die Here! Soek die blydskap van verlossing! Moet nie tevrede wees met aardse blydskap nie; deursoek die Skrif, vra vir leiding om ewige verlossingsblydskap te vind! Die Here stuur Sy Heilige Gees  om jou te lei of te laat lei, sodat jy die blydskap in Christus sal vind! So werk die Heilige Gees vandag nog sodat die Evangelie gehoor sal word selfs tot by die uithoeke van die hele wêreld!

Die Heilige Gees is besig om ons te stuur, te lei en te verbly!

Be First to Comment

Lewer Kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.