Press "Enter" to skip to content

SCRIPTURA Posts

Featured

Sabbatdag, Rusdag, Ewige Rus

powered by Advanced iFrame free. Get the Pro version on CodeCanyon.

In hierdie episode bespreek ons die vierde gebod. Wat is die implikasie van hierdie gebod vir gelowiges vandag? Moet ons Sondae steeds as ‘n sabbat hou?

Ons kyk eerste na die betekenis en instelling van die Sabbat in die Ou Testament. Daarna bespreek ons die betekenis van die Rusdag vir gelowiges vandag. Laastens kyk ons na die dieper betekenis van die dag – die Ewige Rus wat daar vir die Here se kinders voorlê.

Lees gerus ook hierdie artikel: Sabbat/Sondag

Minuutmerkers:

2:43   Sabbatdag 

Die Sabbat se betekenis en instelling in die Ou Testament

11:04 Rusdag

Wat die Rusdag vandag vir ons as gelowiges behels. Hoe lyk ons Sondag?

18:13 Ewige Rus

Die dieper betekenis van die Sabbatdag – die Ewige Rus waarna ons uitsien!

Featured

Openbare Geloofsbelydenis

GELOWIGES DOEN OPENBARE ‘BELYDENIS-AFLEGGING’.

Die vraag word deesdae al meer gevra: Waarom doen gelowiges openbare geloofsbelydenis (of belydenis-aflegging soos dit bekendstaan)? ʼn Kort antwoord hiervoor, is: Want die Heilige Gees werk dit in gelowiges om hulle geloof te bely. Maar waar kom die gebruik van openbare belydenis vandaan, en is dit ʼn Bybelse opdrag? Mense sal byvoorbeeld vra: Is dit werklik vir gelowiges nodig om hulle geloof openlik te bely voordat hulle deel kan wees van die kerk? Aan hierdie vrae wil die artikel kortliks aandag gee.

Bybelse begronding vir openbare geloofsbelydenis

Openbare belydenis van geloof gaan oor eenheid in die geloof. Dit het alles te doen met die eenheid tussen God en die gelowiges deur die verbond (ooreenkoms) wat Hy met hulle oprig. Vandat God die gelowiges roep om as deel van sy volk in verhouding met Hom te leef, word hierdie eenheid veronderstel. Binne hierdie verbond wat God met sy volk oprig, stel Hy sekere eise oor hoe Hy gedien wil word, en verwag Hy ʼn instemming (belydenis van geloof) van die volk se kant af.

Die boek Deuteronomium is ʼn goeie bewys hiervan. Die HERE het sy volk uit Egipte gered en hulle vir Homself geneem. Omdat die volk nou aan Hom behoort, eis die HERE dat sy volk Hom moet vrees, dat hulle in sy weë moet wandel, en dat hulle Hom moet liefhê. In kort moet hulle Hom met hul hele hart en siel dien deur sy gebooie te hou, sodat dit met hulle goed mag gaan (vgl. Deut. 6:1-9; 10:12-13).

Nadat God die verbondseise aan hulle stel (in kort, die Tien gebooie in Deut. 5), verwag Hy ʼn belydenis van geloof (verbondsluiting) van die volk se kant af. So bevestig die volk dat hulle instem met die verbond wat God met hulle gesluit het (Deut. 29-30; vgl. Jos. 24). Selfs die profete eis rekenskap van gelowiges (bv. Hosea, Sagaria, Maleagi e.a.).

Dit is ook nie vreemd dat Nuwe Testamentiese gelowiges hulle geloof in God se genadeverbond bely nie: “Die Gees self getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is; en as ons kinders is, dan ook erfgename, erfgename van God en mede erfgename van Christus.” (Rom. 8:16-17; vgl. Gal. 3:7). Trouens, dit is nie vreemd dat gelowiges hulle geloof in die openbaar bely nie. Paulus skryf aan Timotheus: “Stry die goeie stryd van die geloof, gryp na die ewige lewe, waartoe jy ook geroep is en die goeie belydenis voor baie getuies afgelê het” (1 Tim. 6:12).

Net voor hierdie uitspraak van Paulus, gee hy die rede waarom gelowiges openbare geloofsbelydenis doen. Hy sê: “As iemand iets anders leer en nie instem met die gesonde woorde van onse Here Jesus Christus en met die leer wat volgens die godsaligheid is nie, dié is verwaand en verstaan niks nie” (1 Tim. 6:3-4). Hy kom dan tot die gevolgtrekking dat as daar nie eenheid in geloof is nie, ontstaan daar twisvrae, woordestryd, agterdogtigheid, stryery, en uit die aard van die saak verdeeldheid in die gemeente.

Oorsigtelike geskiedenis van openbare geloofsbelydenis

So het die vroeë Christelike kerk voortgegaan op die Bybelse beginsels van die Nuwe Testamentiese kerk om die leer in die kerk suiwer te hou (vgl. 1 Tim. 1:3-7; Jud. 1:3-4, 17-23). Daarom is dit ook die taak van leraars en ouderlinge om as herders toe te sien dat almal hulle geloof volgens die gesonde leer sal bely en hulle lewe daarvolgens inrig, sodat hulle nie in die gevaar van dwaalleer kom nie (2 Tim. 4:1-4; Hand. 20:25-31; Tit. 1:7-2:1). In die verband word ook gemeentelede gewaarsku teen dwaalleer wat ingaan teen die gesonde Christelike belydenis (1 Joh. 4:1-6).

Daarom was die onderrig en aanleer van God se Woord (kategetiese onderrig) reeds by die vroeë Christelike kerk van groot belang vir elke nuwe gelowige wat gedoop is en deel van die genadeverbond geword het. Voordat hierdie nuwe bekeerlinge (gewoonlik volwassenes) in die kerk opgeneem kon word, moes hulle eers die kernaspekte van die Christelike leer aanleer en deur die geloof hulle eie maak.

Hierdie verhouding tussen die doop en die kategetiese onderrig word duidelik raakgesien in die ‘Groot opdrag’ (Mat. 28:16-20). In hierdie gedeelte gee Jesus spesifiek die opdrag om dissipels te maak van ander nasies. Die wyse waarop dissipels gemaak word is deur hulle te doop en hulle voortdurend te onderrig in die gesonde leer.

Tydens die Middeleeue het kinderdoop egter die praktyk van volwasse-doop ingeneem. So het hierdie gebruik steeds praktyk gebly tydens die Reformasie van die 16de eeu. Die Reformatore het egter gou besef dat hierdie dooplidmate (kinders) se kennis oor die Christelike leer agterweë gelaat sal word as kinders nie ook onderrig in die gesonde leer ontvang nie. Daarom het onder andere Martin Luther, maar veral Ulrich Zwingli, kategetiese onderrig vanaf ongeveer 1525 n.C. amptelik vir kinders ingestel.

Op dieselfde spoor het Johannes Calvyn die openbare geloofsbelydenis se plek in die genadeverbond herstel, sodat die geloofsbelydenis weer die koppeling kan wees tussen die doop en die nagmaal. By die doop word God se beloftes dus vasgemaak en ontvang die gemeente die dopeling volledig as lidmaat van die kerk. Dit is egter eers wanneer die dopeling deur kategetiese onderrig ʼn bevredigende begrip van die gesonde leer het, dat die gelowige met goeie gewete aan die heilige nagmaal deelneem (vgl. 1 Kor. 11:27-34).

Die inhoud van belydenis aflegging

Openbare belydenis is dus nie ʼn voorwaarde om verlos te word nie. Inteendeel, die besef dat ek deel geword het van die verlossing wat Jesus Christus bewerk het, wek by my ʼn borrelende gevoel op om hierdie goeie nuus in die midde van die geloofsgemeenskap te deel. Net so is belydenis aflegging in hierdie opsig ook nie ʼn voorwaarde om deel van kerk te wees nie. Reeds by die doop word mens deel van God se genadeverbond en daarom ook lid van Christus se liggaam. Dit is egter by die belydenis aflegging van die gesonde leer dat die eenheid in geloof volkome bevestig word.

Die besef dat ek deel geword het van die verlossing wat Jesus Christus bewerk het, wek by my ʼn borrelende gevoel op om hierdie goeie nuus in die midde van die geloofsgemeenskap te deel. Click To Tweet

Wanneer ek dus hierdie gesonde leer van die evangelie goed begryp, doen ek ʼn openbare geloofsbelydenis. Dit behels dat ek die enigste Verlosser Jesus Christus aangeneem het, daarna die sonde ontvlug, dat ek die geregtigheid najaag, dat ek die ware God en my naaste liefhet, en dat ek my sondige natuur met sy werke sal kruisig terwyl ek nie na links of regs afwyk van God se Woord nie (so bely gereformeerdes dit in die Nederlandse Geloofsbelydenis Art. 29). In kort beteken dit dat die 12 Artikels van die Christelike geloof reg bely sal word.

So ʼn godvresende en heilige lewe is net moontlik wanneer die Heilige Gees dit in mens werk. Slegs deur die geloof kan ‘n mens saam met die kerk bely dat die Bybel God se Woord is, en dat alles wat in hierdie heilige Skrifte staan, volkome genoegsaam is tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus, en dat dit nuttig is sodat gelowiges volkome toegerus kan wees vir hulle dienswerk in God se koninkryk (2 Tim. 3:14-17).

Featured

Luisteraarsvraag: Verstaan die Bybelse wette

powered by Advanced iFrame free. Get the Pro version on CodeCanyon.

In hierdie episode beantwoord ons ‘n luisteraar se vraag rondom die indeling en klassifikasie van die Bybelse wette.

Ons kyk watter Ou Testamentiese wette nog bindend is vir gelowiges vandag, en ook hoe wetsonderhouding inpas by die Boodskap van die Evangelie.

Minuutmerkers:

1. Die indeling van die wet en hoe ons dit onderskei (2:30):

-Seremoniële-, Morele en Siviele-wette

 

2.Die wet as koninkrykbeginsel vir die kerk (17:20):

-Tot watter mate moet ons nog die wet gehoorsaam? Watter wette geld nog vir ons as gelowiges?

 

3. Hoe werk die wet en die Evangelie saam (29:00):

-Hoe pas die wet in by die verkondiging van die Evangelie – indien enigsins?

 

 

Featured

Luisteraarsvraag: Lotery

powered by Advanced iFrame free. Get the Pro version on CodeCanyon.

In hierdie episode beantwoord ons ‘n luisteraarsvraag:

“Is lotjies trek (“raffles”) sonde? Die Bybel sê nie direk iets hieroor nie? Wat van dobbel?”

Ons kyk na die werping van die lot in die Bybel, dan gesels ons oor lotjie-verkope (bv. vir ‘n kerk se fondsinsameling), en laastens gesels ons oor die Nasionale Lotery.

Minuutmerkers:

03:00   Wat bedoel ons met die “lot werp”?

08:32   Wat van “lotjies-trek”?

18:22   Die Nasionale Lotery / Dobbel

 

 

Featured

Perspektief: April 2019

powered by Advanced iFrame free. Get the Pro version on CodeCanyon.

April in Perspektief! In die lig van onlangse nuusgebeure gesels ons in hierdie episode oor:

  1. Paasfees-kruisigings in die Fillipyne (0.50”)
  2. Die Notre Dame wat afgebrand het (09:45”)
  3. Uitlatings van die rugbyspeler, Israel Folau (19:33”)

 

Featured

Depressie

powered by Advanced iFrame free. Get the Pro version on CodeCanyon.

Wat is depressie? Is dit iets waaraan ek ly?

In hierdie episode bou ons voort op die episode oor “Hopeloosheid” en gesels oor spesifiek oor “Depressie”.

Dit kan dalk gesien word as die oortreffende trap van hopeloosheid. Jy voel of jy in ‘n diep donker gat is en weet nie of daar weer lig sal kom nie.

Ons wil nie net gesels oor wat depressie is nie, maar ook kyk hoe die Bybel ons toerus om die stryd teen die gevoel van depressie te stry.

Minuutmerkers:

2:53   Wat is depressie? Ly ek dalk daaraan?

13:15 Wat veroorsaak depressie?

24:43 Praktiese maniere om depressie te hanteer.

Featured

Hopeloosheid

powered by Advanced iFrame free. Get the Pro version on CodeCanyon.

In hierdie episode grawe ons pastoraal in op die tema van “Hopeloosheid”.

Dit is iets wat almal een of ander tyd tref, ‘n gevoel wat vir niemand van ons vreemd is nie!

Watter voorbeelde van hopeloosheid vind ons in die Skrif? Is die gevoel van hopeloosheid sonde? Waar vind ons dan weer hoop?

 

Minuutmerkers:

1:55   Definisie van “hopeloosheid”

8:21   Hopeloosheid in die Bybel

13:29 Is ‘n gevoel van hopeloosheid gelyk aan ongeloof?

18:03 Definisie van “hoop”

23:05 Wat is die antwoord op hopeloosheid? Wat doen ons as ons hopeloos is?

Featured

New Apostolic Reformation

powered by Advanced iFrame free. Get the Pro version on CodeCanyon.

In hierdie episode gesels ons oor die New Apostolic Reformation (NAR). Is hierdie beweging nuut? Is dit Apostolies? Is dit ‘n Reformasie?

Ons kyk ook in watter mate dit in Suid-Afrika voorkom en deel gedagtes oor die onlangse “It’s Time” geleentheid van oom Angus.

1:40 Wat is die New Apostolic Reformation

Definisie en Oorsprong. Is dit nuut? Is dit Apostolies? Is dit ‘n Reformasie?

20:21 “Revival”

Die NAR praat van ‘n sogenaamde “revival” – Dit gaan oor ervarings: Opswepery, “Gold Dust”, “Fire Tunnels” en die “Shofar”. Die eenvoudige is nie goed genoeg nie, soek altyd die volgende groot ding wat kom! Volgende geleentheid is groter, beter en met meer wonders!

24:45 Eenheid

NAR lê baie klem op eenheid, ongeag of jy in Christus is of nie. Maak nie saak in wat jy glo nie!

26:26 Profesieë

NAR sit altyd die prediker/leier op die voorgrond. Min fokus val op Christus en baie op hulself en hul profesieë, tekens en wonders.

29:20 NAR in Suid-Afrika

It’s time beweging – Angus Buchan.

41:30 Samevatting

Laaste opmerkings

Featured

Sabbat & Sondag

Sondeval, twis en ons rus

Deesdae word die vraag rondom die Sabbatdag en Sondag taamlik gereeld gehoor. Vrae wat ‘n mens tipies hoor is:
– “Wanneer het die Sabbat verander na Sondag?”
– “Moet ek kerk toe gaan op ‘n Sondag? Ek voel ek ontmoet God op die gholfbaan/in die natuur/wanneer ek ontspan saam met my gesin.”
– “Wie mag op ‘n Sondag werk en wie nie? En wat van sport? Vermaaklikheid?”

Ek sien Sondag so:

Dit is ‘n onbybelse uitvindsel
Dit is ‘n dag van ontspanning en herdenking
Ek sabbat op ‘n Sondag
Other
Please Specify:

Deesdae voer al hoe meer mense ook aan, dat die kerk die mense mislei deur die Sabbat te verander na ‘n Sondag. Dit is veral ‘n algemene argument vanuit die “Hebrew Roots” kringe (hier is meer inligting oor hierdie beweging).

Die vraag rondom Sabbat en Sondag is nie nuut nie. Daar is al vir baie jare hieroor geredeneer en gedebateer. Die dag van rus het al baie kere ‘n dag en ‘n onderwerp van twis geword. Hierin sien ek ook die donker vlekke van die sondeval. (Vertrou die sondige mens om God se rusdag te verander in ‘n twisdag!)

Vertrou die sondige mens om God se rusdag te verander in ‘n twisdag! Click To Tweet

God het, so weet ons, alles geskape in ses dae en toe op die sewende dag gerus en die besondere dag ook geheilig (Gen. 2:3). Die geskape mens en dier kon in hierdie staat van rus voortbestaan. Die hele skepping was in ‘n staat van rus. Geen moeite nie. Geen vermoeienis nie. Geen onrus nie.

Die sondeval (Gen. 3) bring dan die hele skepping in ‘n staat van onrus en vermoeienis. Voor die sondeval moes die mens werk, maar dit was geen moeite nie. Na die sondeval moet die mens in die “sweet van sy aangesig” sy brood verdien (Gen. 3:17). Dit wil sê, nou het werk ‘n vermoeienis geword. Die sondeval bring ook mee dat dit moeite is vir die vrou om kinders te kry en om kinders groot te maak (Gen. 3:16).

Nou het die mens behoefte aan rus. Nie net behoefte aan rus van sy werk nie, maar ook ewige sielsrus. Die Here moet ingryp om die rus wat daar was voor die sondeval, weer terug te bring en die rus in sy skepping te herstel.

Die Here moet ingryp om die rus wat daar was voor die sondeval, weer terug te bring en die rus in sy skepping te herstel Click To Tweet

So die vraag gaan nie soseer oor presies watter dag nie, maar die inhoud van die dag, nie waar nie? Nietemin, kom ons kyk na:
– Wat die Sabbat in die Ou-Testament was
– Wat die Sondag in die Nuwe-Testament (en later) was
– Wat die Sondag vandag is
Laastens moet ons dan ook vir ons uitmaak of ons die Sabbat op die sewende dag moet vier of die Sondag op die eerste dag en wat ek op hierdie dag moet doen.

Wat was die Sabbat van die Ou-Testament?

Hier noem ek net kortliks drie aspekte van die Sabbat in die Ou-Testament, as ‘n mens na ‘n paar tekste gaan kyk:

1. ‘n Hooggeagde vierdag

Die sewende dag was ‘n baie hooggeagde dag, nie soseer vir die volk nie, maar vir God. (Dit is ‘n belangrike perspektief wat ons moet hê wanneer ons praat oor die Sabbat-Sondag kwessie. Ons moet meer gemoeid wees met hoe God die dag verordineer en nie watter inhoud ons daaraan wil gee nie!).

Die sewende dag was so hoog geag, dat enigiemand wat dit ontheilig, m.a.w. enigiemand wat werk op die dag verrig, doodgemaak moes word (Eks. 31:14).

In Levitikus 23:7 lees ons verder ook van die verskeie vierdae, oftewel feesdae wat God vir Sy volk gegee het om te vier. Een van hierdie vierdae was dan die sg. Sabbat op die sewende dag. Dit was ‘n dag van samekoms, waarop die volk bymekaargeroep is.

2. ‘n Verbondsteken

Primêr word hierdie dag dan gegee as ‘n vierdag, omdat dit moet dien as ‘n ewige verbondsteken, sê Eksodus. 31:16,17: “En die kinders van Israel moet die sabbat onderhou deur die sabbat te vier in hulle geslagte as ’n ewige verbond. Tussen My en die kinders van Israel is dit vir ewig ’n teken; want in ses dae het die HERE die hemel en die aarde gemaak, maar op die sewende dag het Hy gerus en Hom verkwik.”

3. ‘n Dag waarop algemene aktiwiteite en werksverrigtinge moes stop

In die Ou-Testament was die Sabbat ‘n dag waarop die gewone arbeid en aktiwiteite moes stop. Byvoorbeeld, toe die volk manna in die woestyn versamel het, moes hulle op die sesde dag dubbel soveel optel, sodat hulle kan oorhou vir die Sabbat. Hulle was verbied om op die Sabbat enigsins manna op te tel (Eks. 16:26).

So die Sabbat is gevier op die sewende dag, as ‘n vierdag en ‘n verbondsteken. Geen arbeid mog plaasvind nie. Hoekom nie? Want die Here gee sy volk rus. Die Here wil rus gee van moeitevolle arbeid. Hy wil Sy volk in hulle onrus verseker van Sy rus. Hulle moet terugdink aan die rus wat daar in die Paradys was. Hulle moet ook verlang na die rus wat kom, wanneer die slang se kop finaal vermorsel sal word (Gen. 3:16).

Nou goed, dit is in kort ‘n paar gedagtes oor die Sabbat in die Ou-Testament. Kom ons gaan verder na die Sondag van die Nuwe-Testamanet:

Wat was die Sondag in die Nuwe-Testamanet (en later)?

1. ‘n “Vierdag” en ‘n “dag van eredienste”

Dit is belangrik om te verstaan dat die Sondag nie ‘n moderne verksynsel is nie. Dit is nie iets wat die hedendaagse, “moderne” kerk ingestel het nie. Ons sien alreeds direk na die kruisiging van Jesus, hoe gelowiges nie meer op die sewende dag bymekaarkom nie, maar op die eerste dag – die Sondag. Kyk bv. na o.a. die gebeure van Johannes 20:1,19. Die vroeë gelowiges het op die eerste dag bymekaargekom – die dag van Jesus se opstanding, na Sy kruisiging en begrafnis.

Sommige van die vroeë kerkvaders het ook gepraat van die Sondag as ‘n “dag van eredienste”.

2. Konstantyn I en Karel die Grote

Heelwat later, in 321, het Konstantyn I die Sondag verklaar as ‘n dag van rus. Karel die Grote het in die Middeleeue ‘n Sondagswet uitgereik, waarin hy alle arbeid en vermaaklikheid op die dag verbied het.

Dit is ‘n taamlik gewilde argument, dat Konstantyn die een is wat die Sondag ingestel het, en dat die vroeë Nuwe-Testamentiese Kerk nog altyd die sewende dagse Sabbat gevier het i.p.v. Sondag. Dit is egter nie waar nie. Konstantyn het bloot die reeds bestaande “dag van eredienste” verklaar as ‘n amptelike rusdag.

Daar is nog baie om te sê oor die geskiedenis van die Sabbat-Sondag kwessie, maar kom ons kyk na my en jou Sondae:

Wat is die Sondag vandag?

Vandag het ons natuurlik baie opvattings en verskille oor die Sondag. Kom ek noem drie algemene opvattings oor Sondag in vandag se tyd:

1. ‘n Dag van ontspanning (lees hier: ledigheid)

Ongetwyfeld het ons oor die algemeen meer en meer begin dink oor ‘n Sondag as ‘n dag van ontspanning. Ons het eintlik die Sondag “leeg getap” van enige teologiese besinning. Dit het bloot vir baie ‘n dag van ledigheid geword. Dit is nie soseer vir ons ‘n dag van rus nie, maar ‘n dag van “rustig wees”.

Terwyl ons die dag leeg getap het van sy teologiese inhoud het ons (selfs gelowiges) dit weer volgetap met humanisme. Die dag is nou ‘n dag waar ek kan doen waarvoor ek nie deur die week tyd gekry het nie.

Sondag het vandag ‘n dag van ledigheid en “rustig wees” geword i.p.v. ware rus Click To Tweet

Behalwe hierdie “ledigheids-tendens” wat ons rondom Sondag sien, is daar ook nog ‘n paar ander sienings rondom Sondae vandag:

2. Net ‘n dag van herdenking

Die Sondag word vir hierdie groep mense net ‘n dag van herdenking. Dit gaan hoofsaaklik daaroor dat ons maar net die opstanding van Jesus moet herdenk. Kerkgang en dies meer is nie iets wat noodwendig oorweeg word nie. Ek kan Christus se opstanding oordenk op die wyse wat ek verkies – op die gholfbaan, op my rusbank, of hoe ookal.

3. ‘n Totaal-ander dag as die Sabbat

Baie gelowiges beweer dat die Sondag hoegenaamd geen verbintenis met die Sabbat van die Ou-Testament het nie. Die Sondag is ‘n totale ander dag en het niks met die Sabbat uit te waai nie.

4. Presies dieselfde as die Sabbat

Teenoor die wat die Sabbat en Sondag as twee verskillende dae sien, is daar weer ‘n ander groep wat beweer die Sabbat en die Sondag is een en dieselfde. So word die vereistes van die Sabbat net so oorgeplaas na die Sondag. Geen arbeid mag verrig word nie. Geen sport mag beoefen word nie en geen vorm van vermaaklikheid mag geniet word nie.

So waar laat dit ons nou? Vier ons die Sabbat of die Sondag? Die sewende of die eerste dag? Wanneer het daar ‘n verandering in die dae gekom? Ons kan hierdie vrae rondom Sabbat en Sondag net verstaan wanneer ons gaan kyk na die verhouding en die verbintenis tussen die Ou en Nuwe Verbond (Testament).

Sabbat en Sondag in die lig van die Ou- en Nuwe Verbond

Die Ou-Testamament, oftewel die Ou Verbond en die Nuwe-Testament, oftewel Nuwe Verbond is nie twee verskillende verbonde nie. Ons moet dit nie eintlik verstaan as oud en nuut nie. Ons moet dit verstaan as twee bedelings van dieselfde verbond: die ou verbondsbedeling en die nuwe verbondsbedeling.

So, daar is kontinuïteit tussen die twee. As ons dit nie verstaan nie en nie insien nie, sal die Sabbat-Sondag vraagstuk vir ons groot vraagtekens bo ons koppe laat hang. Iemand wat byvoorbeeld glad nie die Ou-Testament erken nie, of iemand wat beweer die Ou-Testament is in sy geheel afgeskaf, sou bv. argumenteer dat Sondag geheel en al ‘n ander betekenis en inhoud het as die Sabbat. Hulle sou sê die Sabbat is heeltemaal afgeskaf as deel van die Ou Verbond.

Iemand anders wat beweer die Ou-Testament moet nét so gehandhaaf word en niks het verander in die Nuwe Testament nie, sou kon sê dat ons steeds die Sabbat presies moet onderhou soos in die Ou bedeling van die Verbond.

So die antwoord op ons vrae rondom Sabbat-Sondag lê in ons verklaring van die verhouding tussen die Ou en Nuwe Testament. Hoe verklaar ons dit? Wat is die verhouding?

So die antwoord op ons vrae rondom Sabbat-Sondag lê in ons verklaring van die verhouding tussen die Ou en Nuwe Testament Click To Tweet

1. Vervulling in Christus

Christus het gekom om die wet en die profete te vervul: “Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete te ontbind nie. Ek het nie gekom om te ontbind nie, maar om te vervul.” (Matt. 5:17).

Dit beteken dat Jesus die volheid van die wet en die profete kom wys en leef het. Vervul beteken nie dit het verval nie. Ons sien Jesus as die vervulling van die profesieë; die vervulling van die offers; die vervulling van die beloftes by die besnydenis ens.

Die beloftes van die Pasga is vervul in Christus en daarom vier ons nou die Nagmaal. Die beloftes by die besnydenis is vervul in Christus en daarom doop ons nou. So is die beloftes van die Sabbatsrus vervul in Christus en daarom vier ons nou die Sondag.

2. ‘n Verbondsteken

Al manier hoe ons die Sabbat en Sondag kwessie reg kan verstaan is wanneer ons dit verstaan as ‘n verbondsteken. Die Sabbat was ‘n teken van die verbond wat God met Sy volk gesluit het by Sinaï. Hierdie verbond is een en dieselfde verbond wat God ook met ons vandag sluit, daarom is dit bloot ‘n ou en nuwe bedeling van dieselfde verbond.
Ons leef in die nuwe bedeling van die Verbond, na die lyding en kruisiging van Christus. Tog is die Sondag vir ons ‘n viering van God se verbond met ons en ‘n dag van toewyding aan die Een wat vir ons ewige rus bewerk het.

Sondag is 'n verbondsteken wat deur die geslagte onderhou moet word Click To Tweet

3. ‘n Feesdag

Die Sondag is steeds ‘n feesdag, oftewel ‘n vierdag, waarop die volk van God bymekaargeroep word. In die Ou-Testament was die vierdag ‘n vooruitkyk na die rus wat sou kom. Die Sondag is die dag waarop Jesus opgestaan het uit die dood en dus nou alreeds die begin van die ewige rus bewerk het. Ons kan sê: gelowiges in Christus beleef noureeds die eerste dag van hulle ewige rus. Nuwe-Testamentiese gelowiges sabbat op ‘n Sondag.

So, in kort kan ons dit so verstaan, dat die Sabbat in Christus vervul is, net soos die besnydenis en die Pasga. Tog, bly die inhoud van die Sabbat voortleef in die Sondag. Christus het die Sabbat vervul en daarom het die Sabbat verander na Sondag met Jesus Christus se opstanding op die eerste dag.

‘n Laaste paar praktiese opmerkings oor die inhoud van die Sondag:

Hoe moet my Sondag lyk?

1. Sondag is ‘n dag van rus en toerus

Dit is ‘n dag van rus. Die “rus” van die vierde gebod beteken nie ledigheid nie. Dit beteken rus soos God gerus het van Sy werk. Dit is rus met die oog op jou kultuurmandaat. Dit is rus met die oog op die ewige rus wat wag. Dit is rus van die wêreld, ons eie sonde en aardse dinge.

Christus se verlossingswerk bewerk vir ons die rus waarna die Sabbatsdag verwys het. Sondag is nou die dag waarop ons herhaaldelik weer gaan rus in Sy werk, terwyl ons vooruit verlang na die ewige rus wat kom.

Dit is ook ‘n toerustingsdag. Dit is ‘n dag wat ek uitsit, sodat die Heilige Gees in my sal werk deur Sy Woord, gebede en die samekoms met die heiliges. Die dag is die eerste van al die res van my weeksdae. Dit is die dag waarop ek voorberei word vir Maandag, Dinsdag, Woensdag ens.

Gesinne moet ook die dag as toerustingsdag inrig (bv. gesels saam oor die prediking; leer die kinders wat in die erediens plaasgevind het; lees ‘n gedeelte saam uit die Bybel; bid saam ens.).

Sondag is 'n dag van rus en toerus. Click To Tweet

2. Sondag is erediens-dag

As ons verstaan dat die Sondag ‘n verbondsteken is wat God gee, dan bepaal God mos die inhoud van die teken; die inhoud van die dag? As ons ‘n ander inhoud vir die dag gee, dan is dit nie meer die verbondsteken wat dit moet wees nie.

Dit is hoekom Sondag ook, in lyn met die gelowiges van die Nuwe-Testament, erediens-dag is. Dit is nie ‘n dag waarop ek Christus se opstanding herdenk soos ek wil nie. Dit is ‘n vierdag – ‘n dag van samekoms en aanbidding.

Dit is die byeenkoms waarvan Hebreërs 10:25 praat: “en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom.”

Ons word uitdruklik beveel om met die gelowiges byeen te kom en saam weer ons rus in Christus te vind. Sondag is vir ons ‘n 24-uur teken van God se verbond met ons!

Ons moet in die erediens toegerus word deur die Woordverkondiging. Ons moet saam versterk word deur die gebede. Ons moet saam getroos word deur die sakramente. Ons moet saam mekaar help in ons materiële nood.

Sondag is erediensdag! Click To Tweet

3. Sondag is ‘n dag van toewyding aan die Here en nie pligpleging nie

Sondag is ‘n dag wat radikaal anders moet lyk as die ander dae, want dit is ‘n dag wat ek aan die Here toewy. Dit is nie ‘n dag van moets en moenies nie.

Ja, dit is ‘n dag van fisiese rus, maar dit is ook ‘n dag van toegewyde diens aan die Here. ‘n Dag van besig wees met Sy Woord en Sy mense.

In kort …
As ek die inhoud van die Sabbat laat voortlewe in ‘n Sondag, dan lyk ‘n definisie vir ‘n Sondag en die inrigting van die rusdag vir my so:

Die Sondag is God se verbondsteken, wat die gelowiges as ‘n feesdag onderhou, deur saam te rus in die verlossingswerk van Christus.

Die Sondag is God se verbondsteken, wat die gelowiges as 'n feesdag onderhou, deur saam te rus in die verlossingswerk van Christus. Click To Tweet

 

(Ek gee graag erkenning aan ‘n studie wat prof. Paul Kruger, van die Teologiese Skool Potchefstroom gemaak het oor die Sabbat-Sondag vraagstuk).

New Apostolic Reformation (2)

powered by Advanced iFrame free. Get the Pro version on CodeCanyon.

Hierdie is die opvolg episode oor die New Apostolic Reformation (NAR).

Ons fokus in besonder op die volgende vier hoofpunte:

  • Die kenmerke daarvan (2:10)
  • Hoekom dit verkeerd is (18:53)
  • Hoe ons dit kan identifiseer (31:40)
  • Hoe ons iemand kan help wat in die beweging vasgevang is (45:00)
WhatsApp WhatsApp